Vlinders migreer later as gewoonlik PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 25 March 2019 05:22
Untitled Document

Die swerms wit vlinders wat jaarliks deur die Bronberg-gebied beweeg was vanjaar later as gewoonlik. Hulle het teen die Bronnie se saktyd in Maart nog gevlieg, waar hulle gewoonlik iewers tussen laat-November tot middel-Februarie migreer.

Volgens die kenners is die spesifieke migrasietyd nie elke jaar dieselfde nie en hang van weerstoestande af. Dié vlinders staan as grasveldwitjies, Belenois aurota,bekend en hulle migrasie neem hulle van Suid-Afrika se weskus na Madagaskar.


‘n Grasveldwitjie in Rayton
Foto: Laurika van der Linde

Die swerms volg ook nie elke jaar presies dieselfde roete nie. Hulle begin al langs die kus vanaf Kaapstad tot in Namibië uitbroei en migreer dan in ‘n noord-oostelike rigting deur die binneland tot Mosambiek, voor hulle oor die see na Madagaskar vlieg.

Soos die swerms vorder, sluit meer vlinders aan tot daar massiewe swerms, wat tot oor ‘n kilometer kan strek, bymekaarkom. Langs dié migrasieroete lê die wyfies eiers wat volgende jaar betyds vir die volgende trektog sal uitbroei.

Die grasveldwitjies vlieg van sonop tot sononder en moet elke 20 minute nektar inkry, anders dehidreer hulle.

 

© 2019 Die/The Bronberger