Mabel se tydskrif word ‘n eeu later herdenk PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 25 March 2019 05:20
Untitled Document

Ons land se eerste Afrikaanse vrouetydskrif, ‘Die Boerevrou’, is ‘n honderd jaar gelede in die lewe geroep. Dié tydskrif is van Maart 1919 tot Desember 1931 maandeliks in Pretoria onder die redakteurskap van die eienares, Mabel Malherbe, uitgegee.

Ter herdenking van dié geleentheid is ‘Die Boerevrou Gedenkboek 2019’, wat die aangrypende verhaal van en uittreksels uit dié baanbreker-vrouetydskrif bevat, uitgebring.

Jeanette van Rensburg is die outeur en samesteller van dié gedenkboek. Sy het met ‘n doktorale studie in kultuurgeskiedenis bevind dat dié tydskrif verteenwoordigend was van haar lesers en ‘n beduidende groep Afrikaanse vrouens se lewensuitkyk en daaglikse lief en leed weerspieël het.

Die gedenkboek bevat afdelings wat terugblikke bied op die tydskrif se advertensies, modepraatjies, argitektuur, die tuin en huisinrigting. Daar is ook hoofstukke oor tuisnywerheid en boerdery, die voorbladnooi, verandering van die voorblad, vroueverenigings, ruilkolomme, vrae en wenke.

Verskeie hoofstukke handel oor die historiese agtergrond waarteen ‘Die Boerevrou’ verskyn het, daar is ‘n afdeling oor die einde van die tydskrif in 1931 en een oor eienares Mabel Malherbe.


Jeanette van Rensburg

Mabel
Min mense weet dat ons land se eerste Afrikaanse vrouetydskrif deur ‘n Engelse vrou gestig is. Mabel Catherine was ‘n nooi Rex, wat met Kenne Malherbe getroud is. Sy was ’n politikus, joernalis, die tweede vrou wat tot die Volksraad verkies is en die eerste vroulike burgemeester van ’n Suid-Afrikaanse stad, Pretoria.

Mabel en Kenne het eendag ‘n tentoonstelling besoek, waar hulle op ‘Farmer’s Weekly’ ingeteken het. Toe Mabel by die huis kom, kry sy binne in dié tydskrif ’n klein blaadjie, genaamd ‘The Homestead’.

Sy het gevoel dat Afrikaanse vroue só ‘n publikasie broodnodig het en stig toe ‘Die Boerevrou’ met haar man se geld en haar oom, Eugène Marais, se aanmoediging.


Mabel Malherbe, omstreeks 1931

Hermann Giliomee skryf oor haar beweegrede vir dié moedige poging: “Sy was ’n Engelssprekende wat in ’n stoere republikeinse familie ingetrou het. Sy het selde Afrikaans gepraat, min kerk toe gegaan en haar eie familie het verengels. Nogtans het sy bewustelik besluit om haar as ’n Afrikaner te identifiseer.”

Hy skryf dat Mabel dikwels op plase gekom het waar vroue haar raad gevra het oor huishoudelike sake, gesondheid en kindersorg. Sy het haar tydskrif begin omdat sy al die daaglikse probleme van dié vroue in hulle eie taal wou behandel.

Só het dr C Louis Leipoldt en ander medici in ’n gesondheidsrubriek noodsaaklike voorligting oor allerlei siektes gegee.


‘Die Boerevrou’ en ‘Ons Kleintjie’

 ‘Die Boerevrou’ van Mei 1926

Kunstenaars
Mabel het die vroue ook aan kunstenaars bekendgestel. Skilders JH Pierneef en E Mayer het illustrasies gedoen en behalwe vir die bydrae van haar oom, Eugène Marais, was daar ook werk van digters en skrywers soos AG Visser, Jan FE Celliers, Toon van den Heever en FW Reitz.

‘Die Boerevrou’ het ‘n skatkamer van die Afrikaner se kultuurgeskiedenis geword danksy die gewilde rubriek, ‘Om die koffietafel’, waar lesers van hulle voorouers se wedervaringe vertel het.

Mabel se tydskrif was ‘n reuse sukses onder lesers en kritici, maar die advertensies was altyd maar skraps omdat Mabel nie advertensies wat gepatenteerde medisyne of drank gepromoveer het, wou plaas nie.

Haar man se geld was uiteindelik nie genoeg om die tydskrif se voortbestaan te verseker nie en in die moeilike depressiejare moes ‘Die Boerevrou’ in Desember 1931 gestaak word.

Die gedenkboek is by uitgesoekte winkels en by www.dieboerevrou.co.za beskikbaar. Dit kos R250.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger