Skool kry nuwe baadjie PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 March 2019 05:13
Untitled Document

Hoërskool Die Wilgers het op 12 Maart ‘n Opedag gehou om mense bekend te stel aan die nuwe verbeterings by dié skool. Die verbeterings het gevolg ná die skool begunstig is deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) se projek om Afrikaanse skole toe te rus vir uitnemendheid in onderwys.

Die skool se sport-, IT- en ondersteuningsfasiliteite is eerste opgegradeer. Nuwe sportbadkamers is langs die sportvelde aangebou. Heelwat kosmetiese verbeterings is ook aangebring – al die dakke van geboue op die skoolterrein is geseël en nuut geverf en daarna is die verfprojek voortgesit met die res van die skoolgeboue se mure, die relings en heinings.

Die skool se hele IT-infrastruktuur is verbeter. Die administrasiepersoneel het ’n nuwe bediener en sewe nuwe rekenaars gekry en 55 nuwe rekenaars vir die IT en RTT-sentrums is aangekoop en geïnstalleer, asook nuwe tafelblaaie.


Die opgegradeerde skoolgronde

’n Nuwe kamerastelsel is geïnstalleer, die skoolbussies is laat regmaak met paneelklopwerk sodat die skool se handelsmerk daarop aangebring kon word en die oppervlak van die inrypad langs die koshuis is gelykgemaak en geplavei.

Die lys van verbeterings was langer as waarvoor TAO kon voorsien en die skool het self fondse ingesamel vir verdere verbeteringe aan bestaande sportbadkamers en nuwe sluitkassies vir leerders.

Die tafels en bankies by die snoepie is opgekikker met nuwe verf, tuine is opgeknap en ’n nuwe sleepwaentjie is gekoop om die skoolterrein netjies en skoon te hou.

 

© 2019 Die/The Bronberger