Selfmoordsyfers styg PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 March 2019 05:11
Untitled Document

Berigte van kinders van so jonk as tien jaar wat selfmoord pleeg, lig die wenkbroue deesdae skaars.

Op 18 Februarie het ’n 13-jarige meisie van Doornpoort Laerskool glo selfmoord gepleeg ná sy op ‘n WhatsApp-groep geboelie is.

Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng Oos sê dat getalle van selfmoord ‘n steeds stygende tendens toon. Die probleem is so kompleks dat net om die gevaartekens te kan raaksien, al ‘n groot stap vorentoe is.

“Kyk noukeurig vir tekens van self-besering. Veranderings in gedrag, veral depressie en buierigheid, is moontlike aanduidings. Sovele kere is mense totaal verstom wanneer selfdood plaasvind, wat beteken hulle het die tekens misgekyk. Volgehoue langdurige wanhopigheid is ‘n hoofsneller.”


Henda van der Merwe van die CMR

Navorsing het getoon dat ouers van kinders wat selfmoord gepleeg het, meer geneig is om aan angs-afwykings of depressie te ly. Aan die ander kant het kinders van ouers wat selfdood gepleeg het, ‘n groter risiko om dit self te doen,” verduidelik Henda.

“Ons sien kinders in die pleegsorgstelsel wat ouers op hierdie manier verloor het. Hulle het ‘n groter berg om te klim as ander kinders wat ouers op natuurlike maniere verloor het. Dog is die hantering nie noodwendig in ‘n familiekring makliker nie. Volwassenes kan hulself afsluit in hul smart en nie raaksien dat jonger familielede ook erg geraak word en spesiale aandag benodig nie.”

“As ons stappe neem, kan ons sonder om dit te besef, moontlike selfdoodpogings verhoed in hierdie gemeenskap waar amper almal hulp benodig,” sê Henda.

Een mens wat besluit het om reuse stappe te neem teen boelie, wat dikwels na selfmoordpogings onder kinders kan lei, is Maiveen Boehme. Maiveen is self as kind geboelie en het dieselfde trauma jare later ervaar toe haar dogters erg by die skool geboelie is.


Akteurs van 7de Laan neem deel aan ‘n boelie-bewussynsveldtog

Sy het Brave Heart gestig, ‘n nie-vir-wins organisasie, wat ‘n omvattende veldtog aangepak het om mense bewus te maak van die negatiewe effekte van boelies. Die hoofdoel is om ‘n omgewing te skep waarin alle Suid-Afrikaners – of hulle nou op skool is, in die werkplek of in ‘n verhouding – ‘n standpunt teen boelie kan inneem.

Brave Heart bied ‘n hele program aan vir skole, bestaande uit ‘n opvoering en die opstel van ‘n Brave-gemeenskap in elke skool.

Vanjaar gaan die eerste nasionale Brave Heart-dag op 3 Mei gehou word. Vir meer inligting, kontak Brave Heart by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.projectbraveheart.co.za.

Bel die CMR se Henda van der Merwe by 072-801-0092.

 

© 2019 Die/The Bronberger