Blou Bul-bederf vir Swaeltjie se Rohann PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 25 March 2019 05:11
Untitled Document

Rohann Snyder, ’n inwoner van Swaeltjie en leerling by Nuwe Hoop Skool, het op 8 Maart ’n baie spesiale 21ste verjaardag saam met die Blou Bulle gevier.

Rohann ly aan erge epilepsie ná ’n breingewas voorheen verwyder is. Volgens Roedolf Smit, een van sy onderwysers by dié skool vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes, het Rohann al verskeie kere by die dood omgedraai, maar hy is ’n vegter wat telkens bo alle verwagtinge herstel het.


Rohann Snyder en Victor Matfield
Foto’s: Verskaf

Roedolf  het ’n algemene brief aan verskeie instansies geskryf om te sê dat die onderwysers van Nuwe Hoop Skool graag vir Rohann se ouers wil help om ’n spesiale 21ste verjaardag by dié skool in Ashlea Gardens te reël.

Rohann is ’n groot Blou Bul-aanhanger en ’n hele klomp mense het saamgespan om hom met die partytjie van sy drome te verras. Die onderwysers is bygestaan deur Caring Daisies en Hope4Ruben, wat aanvanklik op die been gebring is vir die mediese onkostes van Ruben Scharneck, wat op die ouderdom van ses jaar aan hoë-risiko-neuroblastoom gesterf het.


Die Blou Bulle se gelukbringer saam met Duanne Vermeulen en Jessie Kriel het Rohann Snyder se spesiale 21ste verjaardagpartytjie bygewoon

Rohann het vooraf niks van sy verrassingspartytjie geweet nie. Fatman, Dewald Wasserfall en Pieter Smith was daar om vir hom te sing. Victor Matfield, Duanne Vermeulen, Jesse Kriel en die Blou Bulle se gelukbringer het ook saamgekuier

Die ander Nuwe Hoop-leerlinge het die mylpaal saam met Rohann gevier en is met versnaperinge bederf.


Die sangers, bekendes en mense van Caring Daisies en Hope4Ruben saam met Rohann

 

© 2019 Die/The Bronberger