Sedert die geboorte van die Bronnie – nou bykans 17 jaar gelede – en tot vandag toe nog, was en is ons in die bevoorregte en werklik uitsonderlike posisie om by uitstek met raakvat, staatmaker en eerlike adverteerders geseënd te wees.
Ons adverteerders en ons fantastiese lesersvriende, wat hulle ondersteun, is die lewensaar wat dié onafhanklike tydskrif reisvaardig hou. Maar soos dit soms die geval is, dryf daar sporadies ‘n ongewenste ding in die kosbare vaarwater – soos ‘n lesersbrief hiernaas dit uitlig.
Die oorweldigende positiewe terugvoer wat ons deur die jare in welkome oormaat van die Bronnie se lesers oor die dienste en produkte van ons adverteerders kry en ons adverteerders se volgehoue ondersteuning, is iets wat ons met jaloerse besitlikheid koester. Dit is immers ook vir Die Bronberger op sigself waardevolle advertensie.
‘n Mens kan die enkele uitsonderings, waar ons klagtes oor en probleme met tref-en-trap-adverteerders ervaar het, werklik op een hand se vingers tel.
En waar dit ‘n paar keer wel gebeur, neem ons dit baie ernstig op en maak werk daarvan om agter die kap van die byl te kom.
Dit is wel waar dat ‘n saak gewoonlik veelkantig is en daarom sal ons altyd poog om breedvoerig na die lesersklagte en ook die gewraakte adverteerder se verduideliking te luister. Dit sal gepoog word om die ongelukkigheid of moontlike misverstand onderling tussen die betrokkenes op te los en dit nie aan die groot klok te hang nie.
Die Bronnie is dankbaar vir elke leser se brief en/of oproep waarin pluimpies en dank teenoor ons adverteerders uitgespreek word (en dit tel letterlik by die honderde), maar waar ‘n onaangenaamheid sou opduik wil ons ook graag daarvan weet. En as ons iets daaraan kan doen om die saak te besleg, sal ons dit met oorgawe probeer doen.
Laat hierdie dan dien as nog ‘n baie groot en opregte dankie vir elke adverteerder wat die pad saam met die Bronnie loop en aan elke leser wat hulle ervarings met ons deel. En net om die balans te behou, plaas ons slegs twee van die talle positiewe terugvoerings wat ons gereeld met dankbare oorgawe ontvang:
Anita Robertson van Bashewa: “Baie dankie vir ‘n puik tydskrif. Ek het al oral geadverteer, maar kry telkens my terugvoering uit Die Bronberger se advertensie. My raad aan adverteerders is: Gebruik Die Bronberger. Die tydskrif word ook van hoek tot kant deur my gelees.”
Joanne Theron van Faerie Glen: “Ek het nou twee baie goeie ervarings gehad danksy twee advertensies in die Bronnie. Dis die moeite werd om die Bronnie se adverteerders te ondersteun.” |