Vlieënde piering-padkafee se vreemdheid só verewig PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 26 February 2019 06:25
Untitled Document

Angie Kleijn

Al ooit gewonder hoekom daar ‘n wisselaar genaamd ‘Vlieënde Piering’ op die snelweg in Pretoria se suid-ooste is? Die antwoord op dié vraag verduidelik ook hoekom daar ‘n Pieringweg in Elarduspark is. Altwee verwys na een van Pretoria se eerste padkafees, die Vlieënde Piering.

In die 1960’s was daar nog nie ‘n voorstad in dié gebied, wat as die Waterkloof Landbouhoewes bekend gestaan het, nie. Die padkafee was glo op ‘n vurk in die pad – die een kant was die destydse ‘Ou Silvertonpad’ en die ander kant dit wat ons vandag Pieringweg noem.

Verwysings na die Vlieënde Piering-padkafee dateer terug na Mei 1964 toe die Pretoria Radio Vlieërs deur Dries Welgemoed daargestel is. Nee, hulle het nie pierings gevlieg nie, maar model-vliegtuigies. Dries het amptelike goedkeuring vir die gebruik van ‘n stuk grond op die Waterkloof Landbouhoewes van dr Van der Bijl gekry. Dié grond was wes van die ou Pretoria-Kemptonparkpad en die Vlieënde Piering-padkafee.


Gerhard Vermaak was ’n plattelander op besoek aan Pretoria wat dié foto van die Vlieënde Piering-padkafee in 1967 geneem het

Amiradakis
Baie mense onthou dié gewilde padkafee se heerlike roomys en melkskommels, maar daar is min oor die plek se geskiedenis bekend. Volgens JG Barkhuizen se familie-navorsing het dié padkafee aan ‘n Amiradakis behoort wat met Martha Susanna Petronella Barkhuizen getroud is. Hulle was glo baie ryk en het in ‘n groot wit huis gebly.

Hy sê dat Martha op 19 April 1887 gebore is, alhoewel ander bronne dit 10 jaar later maak, in 1897. Sy is op 24 Oktober 1897 in die Pietersburgse Nederduits Hervormde Kerk gedoop. Haar ouers was Cornelis Johannes Jacobus Barkhuizen en Johanna, ‘n nooi Venter.

Dit is nie duidelik wanneer Martha met Charalambo Amiradakis getroud is nie, maar hulle het net een dogter gehad, Johanna Cavallineas.


Dié Barkhuizen familie-foto is destyds by ‘n begrafnis geneem. Johanna Cavallineas, die dogter van die padstal-egpaar, is die vrou wat links agter staan. Haar ma, Martha Amiradakis, staan voor haar, die vrou links in die middelste ry
Bron: JG Barkhuizen

Martha het later jare glo op Tzaneen gebly. Dit is nie bekend wanneer Martha en Charalambo die Vlieënde Piering begin het nie. Dié padkafee het in die laat 1970’s verdwyn. Het dit toe nog aan die Amiradakis-familie behoort? Martha en Charalambo sou altwee in hulle tagtigs gewees het.

Mense sê dat daar ten tye van die afbreek van die Vlieënde Piering gerugte was dat iemand van Pretoria-Noord die struktuur in sy geheel gekoop het. Die aankoper sou dit glo weer êrens anders oprig. Word dié afgebreekte struktuur vandag nog iewers gestoor? Ná ongeveer 40 jaar?

Baie mense glo egter dat die Vlieënde Piering gebruik is in die fondasies van die R21-snelweg, wat in die 1970’s gebou is.


‘n Rare kleurfoto van ‘n gesinnetjie wat die padkafee destyds besoek het
Foto: amandacl

Dokumente
Amptelike dokumente waarin die padkafee genoem word, is dié van die Transvaalse Provinsiale Tenderraad. Tendernommer RFT 78 van 1970 is onderteken deur CW Grunow, voorsitter van dié raad, en het te doen met die herseël van verskillende provinsiale padgedeeltes in die Witwatersrandse Streek (Oos-Rand).

’n Ingenieur het voorgenome tenderaars op 14 September 1970 om 8 vm by die Vlieënde Piering-padkafee, agt myl van Pretoria op die Kemptonparkpad, ontmoet om die terrein te gaan besigtig.


Die Transvaalse Provinsiale Tenderraad het nog ‘n dokument wat na die padkafee verwys: Tendernommer RFT 1 van 1971 vir die konstruksie van ’n gedeelte van ’n provinsiale deurpad 0170 vanaf Olifantsfontein na die Vlieënde Piering, ongeveer 9,3 myl.

’n Ingenieur het voornemende tenderaars op 7 April 1971 om 10 vm by die Vlieënde Piering-padkafee ontmoet om die terrein te gaan besigtig.

Die vraag kom op hoekom die padkafee soos ’n ‘Vlieënde Piering’ gebou is – sommer net ‘n aardigheid of het dit vreemde vlieënde voorwerpe (VVV) wat in die 1960’s in Pretoria gesien is, nageboots?


‘n Kaart van die Vlieënde Piering-wisselaar op die R21-snelweg by Erasmuspark en Elarduspark. Pieringweg kan regs onder op die kaart gesien word

Vreemd
Op 16 September 1965 was daar ‘n VVV insident in die Pretoria-distrik wat wyd deur die media gedek is. Net ná middernag het polisie-konstabels Lockem en de Klerk ‘n VVV op die Bronkhorstspruitpad sien land waar dit ’n 30 voet wye merk met ‘n ses-voet diep impak op die pad gelos het. Dié insident is deur Luitenant-kolonel JB Brits van die Pretoria-Noord-Polisiestasie in ‘n persverklaring bevestig.

Ander insidente wat wye media-dekking geniet het, begin eers weer so bykans 30 jaar later. In die nag van 7 April 1991 is ’n driehoekige VVV met wit ster-ligte weerskante en ’n rooi sentrale lig deur ’n gesin by Baviaanspoort naby Cullinan opgemerk.

Dan is daar ook die bekende insident op 28 Augustus 1996 waar bykans 200 polisiebeamptes ‘n VVV met polisievoertuie en ‘n helikopter gejaag het. Die voorwerp is kort voor 4 vm deur sersant Johan Becker van die Adriaan Vlok-polisiekantoor bo-oor Erasmuskloof gesien terwyl hy en ’n kollega op patrollie was. En is Erasmuskloof nie naby genoeg aan  Elarduspark waar die padkafee was nie?


Die padteken wat die ‘Flying Saucer’ wisselaar aandui

Radiobeheer is gebel en ’n polisiehelikopter en beamptes van die blitspatrollie, honde-eenheid, polisiekantore in Centurion, Pretoria-Moot en Wonderboompoort het die lig agternagesit in Cullinan se rigting en toe na Bronkhorstspruit, waar dit skielik die lug in opgeskiet het. Die helikopter, wat sowat 200 km/h moes vlieg om by te bly, het op ’n hoogte van 10 000 voet en ’n temperatuur van -7ºC tou opgegooi.

In September 1997 het Frank Valentyn en ander motoriste ‘n enorme stilstaande toring van ongeveer ‘n dosyn gestapelde voorwerpe vanaf die N1-snelweg deur Pretoria-Oos gesien. Daar was glo ‘n stel oranje ligte reg rondom elke voorwerp.

Op die aande van 21 en 22 Julie 2010 het inwoners van Booysens in Pretoria ‘n driehoek helder ligte bewegingloos in die hemelruim sien hang. Daar was glo blou en groen ligte en ‘n wit lig het reguit afwaarts geskyn.

Die Grub-gesin van Tierpoort het binne die bestek van een maand in 2011, 27 bewegende oranje ligte in die hemelruim gewaar. Charlotte Grub  het op 11 Mei sowat 20 oranje ligte sien verskyn en verdwyn.

Die nag van 10/11 Junie het die ligte weer gekom, en dié keer het haar pa, Dieter, dit ook gesien.

 

© 2019 Die/The Bronberger