Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
‘n Ou vriend vertel ons van ‘n nuwe strand, ja ‘n strand soos by die see – net sonder die see – wat op Zwavelpoort oopgemaak het. Ons sit op ‘n mooi Saterdag af strand toe, want ons het lankal lus vir seekos, maar ons loop ons in ‘n malle menigte vas en blaas eindelik maar die aftog. Ek dink ek het laas by Loftus soveel voertuie en ‘ondersteuners’ bymekaar gesien – destyds toe die Bulle nog gewen het.
Só gebeur dit dan dat ons heelwat later met ‘n lang draai op Braza se stoep beland. Braza is ‘n ruim Portugese kuierplek by ‘n nuwe sentrumpie in Shere wat hulle ‘In Shere’ noem. Jy sou dalk (soos ek) bespiegel of die naam iets met Brasilië se Portugees te make het, maar ek hoor dit is eintlik ‘n lengtemaat in Spaanserige lande wat so lank soos ‘n mens se arm is – amper soos die Bybelse el. Nee, ek weet ook nie wie se arm nie.
Die ouboet van alle waaiers hou die stoepsitters koel
Op Braza se ruim stoep stu daar ‘n aangename luggie en toe sien ek die plek se reusagtige waaiers. Die goed is groter as wat jou wildste verbeelding dit in oordaad sou kon uitdink. Ek peins nog of dit dalk die natuurlike windjie is wat die groot lemme laat draai en of dit dalk die lemme is wat die windjie laat waai, toe ‘n netjiese kelner met ‘n stapel spyskaarte nader staan.
Duursaam, gewigtig en indrukwekkend is die hoofspyskaarte en daarby nog wyn- en drankboeke en aparte spyskaarte met die plek se ‘spesiale’ geregte van die dag. ‘n Hele bekvol, mag jy maar sê.
Soos te wagte kan wees van ‘n plek wat hom toespits op Portugese kos met die klem op die Mosambiekse manier van doen, word kwaai klem gelê op seekos, hoender en espetadas. Ons bestel ‘n stewige beker sangria teen die dors en ons begin blaai deur die ligte kosbibliotekie.
Dis lekker gesellig op Braza se kuierstoep en in die plek se binnewerke, met sy indrukwekkende vloeistofvulstasie, word met gemoedelike oorgawe gekuier. Eenkant op die stoep staan ‘n garnaalsjef by ‘n drombraai met ‘n draaitang in die een hand en die ander hand in die heup – soos dit ‘n kunstenaar sou betaam. Die braaisjef is besig met een van die dag se spesiale disse. Hy braai vir jou een volle kilogram garnale (dis Afrikaans vir camarão wat Portugees is vir ‘prawns’, Nico) met die nodige daarby teen net R199.
Genoeg lulabuise met groente vir geniet en ‘n ‘wifey bag’
Later wonder ek ernstig oor my winskoopvernuf ná ek 10 koningin-garnale teen R229 bestel het. Maar die garnale, moet ek darem byvoeg, was vir my bykans perfek met sy suurlemoenbottersousie en baie geurige rys. Net vlugtig het ek ook gewonder of dit nie effe onregverdig is teenoor die rokende gaste wat eenkant in die hetigheid moet sit, terwyl daar op die rook-verbode-stoep in die diep koelte, houtskool verrook word nie.
Metgesel roep ‘n lulagereg met gebraaide groente nader. Lula is die Portugese benaming vir calamari wat in die Afrikaanse oeswêreld daarvan, gewoon tjokka of soms inkvis genoem word. Maar ‘n tjokkastertbuispunt sal volgens Metgesel by enige denkbare naam nie maklik beter as dié van Braza kan smaak nie. Die porsie is ruim saam met ‘n ewe ruim opskepsel van gebraaide groente. Dit kos R129 en ek vra vriendelike kelner vir ‘n ‘doggie bag’, waarop hy so ewe verneem of ek nie dalk ‘n ‘wifey bag’ bedoel nie.
Tien koninginne uit die see
Onbegonne sou dit wees om die spyskaarte deeglik hier te bespreek, daarom vat-vat ek net so hier en daar daaraan. Jy kan ontbyt by Braza geniet. Die Prego-ontbyt kos R97 en dis Prego (Portugese biefstuk van aard) met eier en goed op ‘n pau, wat ‘n smaaklike Portugese broodrolletjie is.
Voorgeregte sluit hoenderpensies in, wat ons in Mosambiek as ‘moelas’ leer ken en geniet het, teen R59. Portugese sardiens teen R69 sou ‘n smaaklopie regverdig, sou jy dié lekkerte nog nie op jou kerfstok het nie.
Deelborde van hoofsaaklik seekos en/of hoender is beskikbaar en espetadas (amper nes sosatie, maar heel anders) kos ‘n entjie oor die R100. Seekos soos garnale, lula, en lynvis se pryse is nogal billik, dink ek.
‘n Deel van Braza se binnewerke met vulstasie
Die vleislustiges hoef ook nie by espetadas vas te steek nie. Nogal wyd is die keuse van bees, lam, vark en ja, hoender. ‘n T-been van 500 g sal jou byvoorbeeld R155 uit die sak jaag.
Ons verlaat Braza se kuierstoep op Shere tevrede en vervuld. Lekker het ons gekuier en die spyse en dranke was soos ons dit wou hê. Ek wil amper bly wees die ‘strand’ op Zwavelpoort was dié dag te vol.
Obrigado!
Jy kan Braza bel by 012-809-2453. |