Daar is ‘n engel in Willie se sinkhuis-koskas PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 26 February 2019 06:23
Untitled Document

‘n Historiese ou sinkhuis uit die vroeë 1900’s is die tuiste van ‘n Cullinanse kabaret- en koskunstenaar.

Dit is die plek waar liedjies en ‘n kookboek geskryf is, waar ‘n sinkhuismark twee keer ‘n jaar gehou word, waar langtafeletes om oor huis toe te skryf aangebied word, waar daar met vreemdsoortige haarlose katte geteel word en besoekende katte in die kathotel genaamd ‘Diva Cattery’ oorbly.

Dié sinkhuis is die plek waar ‘n seuntjie van die plaas Vyfbeker in die Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap, die televisiepersoonlikheid Willie Strauss geword het wat al op programme soos Fiesta, Bravo, Erfkos, Glitterati en Geraas ‘n gas was. Saam met mede-aanbieder, Etienne Smith, behartig Willie nou al die afgelope ses reekse van die program, ‘Kos is op die tafel’, op die Afrikaanse Satelliet TV (ASTV) kanaal 460 op Starsat.


Willie en Bles in die sinkhuis se tuin

Willie het vir ses jaar ‘n Saterdagoggend-praatjie oor kos op Pretoria FM gedoen en deesdae deel hy af en toe ‘n resep met Amore Bekker, aanbieder van RSG se Tjailatyd.

Hy hou ook ‘Sing en Kook’ optredes dwarsoor die land. In dié optredes demonstreer hy ‘n paar geregte, lees gedigte en stories uit sy boek, ‘Daar is ‘n Engel in my Koskas’, vertel kosstories en laat jou proe aan sy geregte.

Willie gaan in Maart by die Woordfees optree, daarna by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en tussen al die kunstefeeste deur hou hy op 8 Junie so ‘n opvoering by die Hervormde Kerk Premiermyn in Cullinan.

Willie vertel dat sy loopbaan organies in die rigting van kos beweeg het. Hy het sy Nasionale Diploma in uitvoerende kuns by TUT behaal en doen sedert hy klaar studeer het vryskutwerk.


Willie op sy sinkhuis se stoep met Bella, wat ‘Daar is ‘n engel in my kosbak’ geïnspireer het

Behalwe vir sy betrokkenheid by verskillende fasette van die vermaaklikheidsbedryf, het hy vir jare ‘n musiekrubriek vir ‘Rapport’ se ‘My Tyd’ geskryf. Daarná het hy in dié publikasie oor kos begin skryf en agtergekom dat sy skrywes baie gewild was.

Willie wou van kleins af ‘konsert hou’ en het bekend geword vir sy kabaret-optredes, so dit was ‘n logiese stap om sy toordery met kos in kabaret te omskep – vandaar ‘Sing en Kook’. En hoekom dan nie ‘n kookboek nie? Hy het vir vyf jaar lank aan sy resepteboek, ‘Daar is ‘n Engel in my Koskas’, gewerk en was verheug toe Human en Rousseau dit verlede jaar gepubliseer het.

Dié boek fokus op die kos waarmee mense grootgeword het en Willie sê baie lesers ervaar ‘n hunkering terug na daardie dae en ‘n gevoel van koestering as hulle die resepte self maak. Dit is nie net ‘n gewone kookboek nie, want Willie vertel stories tussen die resepte deur.


Etienne Smith en Willie Strauss op die kookprogram, ‘Kos is oppie tafel’

Die titels van sy hoofstukke kom baie duidelik uit Willie se eie mond en weerspieël sy onortodokse benadering tot die lewe met ‘n soort speelsheid. So byvoorbeeld is die hoofstuk oor ontbyt se titel, ‘Môre, Engel. Het jy lekker geslaap?’ en die een oor slaaie, ‘Engel, moenie in my slaai kom krap nie’.

‘Mak soos ‘n lam’ is die afdeling oor skaapvleis; ‘Re-spek-tabel’ gaan oor varkvleis; ‘Heilige koeie’ is die een oor bees; en ‘Hou op vis vir komplimente’ is die een oor vis. Dan is daar ook die hoofstukke oor soetgeregte: ‘Haai, jy mousse nie!’, ‘O, koek! Jy is ‘n Engel’ en ‘Maar jy lyk soos ‘n tert, Engel’

‘n Mens verstaan die boek se naam en die verwysings na engele as jy in Willie se sinkhuis en dié se tuin rondkyk. Hy sê dat engele nog altyd vir hom ‘n tema was en dat dit nou ‘n soortvan handelsmerk geword het. Hy wou nog altyd sy eie tafellinne reeks gehad het en saam met die boek het hy dit toe uiteindelik gedoen: ‘n Stel wat bestaan uit ‘n tafeldoek, plekmatjies en servette.


‘Daar is ‘n Engel in my Koskas’

Willie het onlangs begin om ‘n reeks bederfies vir honde en katte te maak en dit staan natuurlik as ‘Daar is ‘n Engel in my kosbak’ bekend. Sy hond Bella, wat self op Facebook praat, is die woordvoerder vir dié bederfies.

Dan maak Willie ook slaapbroeke, met ‘n meelsak-motief, op die kostema. Die mansbroeke sê ‘Mieliemeel’, ‘Meer mielie as pap’ en ‘Bruismeel’. Die slaapbroeke vir vroue sê ‘Koekmeel’ en ‘Koek wat almal soek’.

Ander produkte is sy ‘Jirlike sous’, lepels wat ‘Roer my’ verkondig en koekrollers wat ‘Rol my’ sê.
Willie is besig om ‘n nuwe CD, ‘Ek skryf vir jou’, op te neem. Dit is een waar hy oor baie persoonlike dinge praat soos sy ma, wat sy reis met kos geïnspireer het, liedjies oor sy sinkhuis en die aanval wat hy oorleef het.


‘n Helder verligte sinkhuis

In Junie 2017 het “die engele oortyd gewerk,” het Willie gesê ná hy en Etienne deur ses gewapende boewe in ‘n lokval gelei is. Groot klippe is naby Mamelodi oor Zambeziweg-verlenging gepak en Willie en Etienne is aangerand en aangehou tot ‘n onbekende motoris tot hulle redding gekom het. Die liedjie ‘Nagblom’ op die nuwe CD vertel hierdie verhaal waar Willie sing van ‘n blom wie se blare weer aanmekaargesit moet word.

In ‘Sinkhuisliefde’ sing Willie oor sy huis en die musiekvideo wys ook hoe dit binne-in dié huis lyk. Willie sê dat hy eintlik ‘n introvert is en dat sy huis sy veilige hawe is waar hy kan uitrus ná een van sy vertonings waar hy alles wat in hom is aan ander uitgegee het.

Hy sê dat hy dié huis wou terugbring na wat dit aanvanklik in die jare toet was. Daarom koop hy net tweedehandse meubelstukke, wat elk klaar sy eie storie het, en “dan word hulle storie deel van my storie”.

Willie is ‘n versamelaar van formaat en so ‘n magdom ornamente pryk op rakke dat mense gereeld vir hom sê sy huis lyk soos ‘n museum. Dan slaan hy sy oë ten hemele en sê dat hy nie ‘n minimalis is nie.

Hy sê hy verstaan minimaliste glad nie; hulle huise lyk vir hom of daar pas ingebreek is. “Minimaliste is net mense wat nie weet hoe om ruimte te benut nie,” sê Willie.


Sinkhuismark

Dit is vir hom belangrik dat sy sinkhuis juis op Cullinan staan. Hy voel bevoorreg dat hy op ‘n skaapplaas in die Boesmanland grootgeword het, maar wil asseblief net nie weer daar gaan bly nie. Hy het ook nooit gedink dat hy op ‘n klein dorpie sou wou woon nie.

“As iemand so 20 jaar gelede vir my gesê het dat ek op ‘n klein dorpie gaan bly, sou ek hom regtig gevra het of hy Wim snuif.”

“Maar Cullinan is anders as die ander kunsdorpies op die platteland,” sê Willie. “Pretoria is naby. Jy spring in jou kar en binne ‘n halfuur tot ‘n uur is jy by ‘n teater of ‘n fliek of ‘n inkopiesentrum.”

Hy sê dat hy werklik ‘n holte vir sy voet in Cullinan gevind het. “Daar is niks so lekker as wanneer my kar se neus terug staan huis toe nie en dan sien ek weer die jakarandas wat mekaar voor in my straat omhels.”


Willie by die klavier in sy sinkhuis

Willie se kombuis op Cullinan is die plek waar engele in koskaste woon. En natuurlik in kosbakke ook. In die voorwoord van sy boek skryf hy: “Ek hoop die engele speel saam met jou in jou kombuis. In die weerkaatsing van ‘n bottel ingelegde vrugte gewaar jy dalk skrams die silhoeët van ‘n engel. Digby die kombuisvenster hoor jy miskien ‘n vlerk toevou . . . .”

Willie se boek is op sy webtuiste, http://williestrauss.co.za, sowel as alle goeie boekwinkels te koop.

Vir meer inligting oor sy langtafels en markte, stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , of besoek Die Sinkhuismark se facebook-blad.

Vir optrede-besprekings, bel Nelius by 083-300-5447 of 0860-278-478 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger