Knop-kop swemvoël is nie ‘n eend nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 26 February 2019 06:17
Untitled Document

Bleshoenders is van die min swemvoëls wat nie gewebde pote het nie. Hulle het egter breë gelobde tone wat doeltreffend as roeispane werk.

Hulle dryf hoër op in die water as eende en buig hulle koppe op en af as hulle swem. Bleshoenders is ‘n aggressiewe spesie en baie territoriaal in die broeiseisoen. Hulle sal nie huiwer om groter voëls, soos kolganse, te verjaag nie.


Die bleshoender is ‘n swart voël met wit bles
Foto’s: Wikipedia

Wanneer hulle vlug of ‘n indringer jaag, ‘hardloop’ hulle oor die water terwyl hulle vlerke vinnig geklap word om hoogte te wen. As so ‘n hoender eers in die lug is, vlieg hy met kragtige hale.

Die bleshoender is eintlik lid van ‘n familie skaam skuilvoëls, soos riethane en waterhoenders, wat meestal in rietbeddings of digte moerasplantegroei versteek bly. Jy sal die bleshoender egter baie makliker as sy ander skaam familielede sien – hulle is van die algemeenste watervoëls op die meeste damme en vleie.


Hier kan duidelik gesien word dat die bleshoender nie gewebde pote het nie

Dié voël se Engelse naam is ‘red-knobbed coot’ wat na die twee donkerrooi knoppe bo-op sy voorkop verwys. Dit is net in die somer met broeiseisoen dat dié knoppe swel en opmerklik word. As jy ‘n bleshoender met sulke knoppe op die kop sien, moet jy maar lig loop, omdat hulle neste in dié tyd aggressief verdedig word.

Die Afrikaanse naam ‘bleshoender’ verwys na die kaal wit gedeelte op die voël se voorkop, wat strek van die basis van die snawel tot die bokant van die kop. Dié deel is veral opvallend omdat die voël se vere pikswart is.


Bleshoender-eiers

Die bleshoender, Fulica cristata, is omtrent 38–45 cm lank, met ‘n vlerkspan van 75–85 cm en ‘n gewig van 585–1,085 gram. Sy geluid is ‘n weergalmende ‘klak-klak’, ‘n ‘vvvvm’ met ‘n geleidelike aanhef of ‘n proestende ‘tjolf’ alarmroep.

Dié voëls verkies stil water en knibbel aan stukkies akwatiese plantmateriaal wat hulle op die water se oppervlakte vind. Hulle sal ook na dieperliggende plante pensduik en die water verlaat om teen die wal te wei. Die bleshoender is ‘n omnivoor en vreet ‘n verskeidenheid lewendige prooi asook die eiers van ander watervoëls.


‘n Volwasse voël voer ‘n kuiken

Sy nes is ‘n groot hoop plantmateriaal met ‘n holte aan die bokant – gewoonlik in vlak water of aan waterplante geanker. Tot agt eiers word gelê.

Onvolwassenes het nie ‘n bles op die voorkop nie, het bleker vere as volwassenes en het ‘n witterige bors. Die swart vere kom uit as hulle omtrent drie tot vier maande oud is, maar die wit bles word eers prominent as hulle ongeveer ‘n jaar oud is.

 

© 2019 Die/The Bronberger