Legendariese kuierplek op Kerkplein sneuwel PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 26 February 2019 06:13
Untitled Document

Die einde van ‘n era het aangebreek toe die historiese Café Riche op Kerkplein ná 25 jaar se bedrywighede in Januarie gedwing is om sy deure te sluit. Die Gautengse Departement van Infrastruktuur, wat die gebou besit, het die huurkontrak met bistro-eienaar, Lamé Ebersohn, opgeskort sodat noodsaaklike onderhoudswerk aan die gebou gedoen kan word.

Ander ondernemings rondom Café Riche het soortgelyke kennisgewings ontvang om die gebou te ontruim. Dit is nie duidelik wanneer die Departement van Openbare Werke met die werk gaan begin en vir watter doel die gebou daarná gebruik gaan word nie.


Café Riche op die linkerkantse hoek in 1920 met die ou tremspore duidelik te siene
Bron: HPH Behrens, 1962. ‘Kerkplein in die ou dae’ in ‘Suid-Afrikaanse Panorama

So het Kerkstraat-wes in 1882 gelyk. Café Riche is later op die linkerkantse hoek gebou, oorkant die Poskantoor op die regterkantse hoek
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
.

Café Riche eienaar Lamé, wat deesdae in Stellenbosch woon, het gesê dat sy nie weer sal terugkom om die bistro te heropen nie. Die departement het aan die einde van Desember verlede jaar vir haar ‘n kennisgewing gestuur om die gebou te ontruim, maar sy het dié kennisgewing eers in Januarie ontvang en is gedwing om die gebou baie skielik te ontruim.

Dié historiese gebou, genaamd die Investment-gebou op die hoek van Parlement- en Kerkstraat, is in 1904 deur die Nederlandse argitek Frans Soff ontwerp en in 1905 gebou. Hy het ook die Vrouemonument in Bloemfontein saam met Anton van Wouw ontwerp.


Die kunswerk van Mercurius vorm deel van die gebou
Foto: Nicholas Clarke

Die klip-uil op die betonvoetstuk en die kunswerk van Mercurius, wat deel van dié gebou vorm, is deur Anton van Wouw ontwerp. Hy het ook die Paul Kruger-standbeeld in die middel van Kerkplein ontwerp.

Die gebou is esteties betekenisvol omdat dit baie Art Nouveau-kenmerke het soos ‘n asimmetriese fasade, simboliese versierings en ornamente. Die deure en vensterrame het van die Toringkerk, die tweede en laaste kerk op Kerkplein wat ’n toring gehad het, gekom.


Versierings op ‘n gewel
Foto: Paul van der Merwe

Die klip-uil op die betonvoetstuk
Foto: Danielle James

Café Riche is as ’n provinsiale erfenisterrein verklaar en word ingevolge Artikel 34 van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (Wet 25 van 1999) beskerm.

Die gebou is 30 jaar gelede gerestoureer, maar reeds in September 2015 was daar sprake van die moontlike sluiting van Café Riche omdat die gebou se kelderkantore toe reeds meer as vyf jaar lank onder water was.


Café Riche in die nag
Foto: Louis Oelofse

Riool- en stormwater het deur stukkende pype daar ingespoel en opgedam. Die gebou se fondamente het skade gely. Nuwe pompe is onder in die gebou geïnstalleer om die water uit te pomp, maar is intussen gesteel.

Oor die laaste kwarteeu was Café Riche die tuiste van opwindende straatteater-opvoerings, parades, Nuwejaarspartytjies, die jaarlikse viering van Pretoria se verjaardag en talle ander kulturele gebeure soos boekbekendstellings, boekbesprekings en filosofiese praatjies.


‘n Deel van die binnekant
Foto: Danielle James

Café Riche het getuig van die liefde en omgee wat eienaar Lamé Ebersohn vir die plek en Kerkplein gehad het. Sy het gereeld tussen Stellenbosch en Pretoria gery en het aktief deelgeneem aan Operasie Lalela, die hernuwing van Kerkplein. Dit was vir haar belangrik dat Kerkplein se geskiedenis behoue moet bly en dat dit ’n toeristetrekpleister moet wees.

Café Riche, wat gespog het met historiese foto’s van toeka se Pretoria oral teen die mure, was die enigste Suid-Afrikaanse onderneming op die ‘British Telegraph’ se keuse van die top 50 kafees in die wêreld.


Kerkstraat se westelike fasade in die dae van trems. Dié trem het voor Café Riche op die linkerkantse hoek gestop. Op die regterkantse hoek was die ‘nuwe’ Algemene Poskantoor
Foto: Wikimedia

 

© 2019 Die/The Bronberger