Morsjorse se strooi nie verder opgevreet PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 26 February 2019 06:12
Untitled Document

Die Tshwane-metroraad het aangekondig dat daadwerklike stappe teen onwettige rommelstorting voortaan geneem sal word. Oortreders gaan voortaan tronkstraf of ‘n boete of altwee ontvang.

In die 2017/18 finansiële jaar het die metroraad R67 miljoen spandeer om onwettige stortingsterreine skoon te maak. Die Omgewing en Landboubestuursdepartement het aangekondig dat daar meer as 600 onwettige stortingspunte in die metroraad se gebied is. Die meeste daarvan is in streke een, twee, drie en ses.

Dié onwettige stortingspunte is grootliks in informele nedersettings, op padreserwes en naby die oop ruimtes van hoof arteriële paaie in nedersettings, stedelike en voorstedelike gebiede. Tagtig persent van dié punte is op eiendom wat deur die metroraad besit word en 20% op private eiendom.

Die onwettige stortingsterreine bestaan uit 90% huishoudelike afval en 10% bourommel.


Oor die jare het Die Bronberger hordes foto’s van rommelstorting geplaas. Dié een is in 2012 oorkant Mooikloof Heights langs Garstfonteinweg-verlenging geneem

Mike Mkhari, lid van die bestuursraad vir Landbou en Omgewingsbestuur sê dat dié “voorkombare en onbesonne storting die omgewing vernietig en ook ‘n aantal ander negatiewe effekte op die samelewing het. Die skoonmaak en rehabilitasie van dié terreine kos belastingbetalers elke jaar miljoene Rande, wat beter aangewend kan word in die bewaring en versorging van die omgewing.”

Hy sê dat oortreders gevang sal word met die bystand van die Tshwane Metro Polisiedepartement en sy inspekteurs, wat opleiding as vredesbeamptes ondergaan. Oortreders sal voor die Munisipale Howe verskyn.

Mike sê die raad wil inwoners en eienaars van sake-ondernemings waarsku dat onwettige storting ‘n oortreding is van die rommelbestuur-verordening. Artikel 48 van dié verordening stel dit duidelik dat enige mens wat skuldig bevind word aan ‘n oortreding van dié verordening ‘n maksimum van drie jaar tronkstraf of ‘n boete van R60 00 of altwee kan ontvang. Die straf sal deur die Munisipale Howe volgens die Aanpassing van die Boeteswet, 1991 bepaal word.

Die metroraad vra dat gemeenskapslede onwettige rommelstorters moet rapporteer by 012-358-9999.

 

© 2019 Die/The Bronberger