Angie Kleijn
Die storie van Edna May Walker se lewe is een wat in ‘n bykans vergete delwersdorpie buite Cullinan begin het en in Seattle in Amerika geëindig het. Dit is die verhaal van ‘n gesin wat deur hulle pa verlaat is. Sy dogter is vyf keer getroud en geskei sonder om ooit by haar eie kinders te bly. Haar eerste seun is in ‘n weeshuis agtergelaat en haar tweede een is knap na geboorte vir aanneming opgegee.
Edna is op 4 Januarie 1909 in die destydse Hallsdorp of Holzdorp gebore as die oudste kind van Sidney Arthur Walker en sy vrou Ivy, ‘n nooi Green. Die rekords dui aan dat die Premier Diamantmyn se dokter, Spencer Lister, gehelp het om die baba te vang.
Edna May Walker
Foto: Findagrave.com
Die Walkers het in Eerste-straat 7 in dié delwersdorpie suid van die myn op die plaas Byenestpoort gewoon. Bronne verskil oor die naam ‘Hall’ of ‘Holz’. Sommige sê dat die dorpie na die diamantmyn se ingenieur, Holtz, vernoem is. Ander sê weer dat dit na die kampong-bestuurder, Hall, vernoem is.
Dié delwersdorpie was van tydelike aard – dit is in die vroeë 1900’s gestig en die huise en winkels is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog weer afgebreek. Al wat oorgebly het is die ou fontein wat deur Italiaanse Krygsgevangenes van Zonderwater gebou is.
Deur die dekades het die veld Edna se geboortedorp toegegroei en eers in 2017 is die fontein na die McHardy Huismuseum op Cullinan verskuif.
Ivy Walker, Edna se ma, was ‘n nooi Green
Foto: Geni
Prospekteer
Wanneer Edna se ma en pa, Sidney en Ivy, in dié gebied aangekom het, is nie duidelik nie. Prospekteerders het reeds in 1898 op Byenestpoort begin diamante soek. Karel Petrus Minnaar het dié plaas van omtrent 6 000 hektaar in 1857 gekoop.
Een van die vroegste berigte van diamant-ontdekkings in dié gebied dateer terug na 1871 toe ’n diamant van oor die vier karaat op ’n plaas gekry is. Later is diamante op die oewers van die Elandsrivier en verskeie ander strome in die omgewing gevind.
Edna se pa, Sidney Arthur Walker, wat die gesin verlaat het
Foto: Geni
In 1898, toe meer diamante op Byenestpoort gevind is, het oorlogswolke egter begin saamgepak en die delwery is in die Anglo Boere-oorlog gestaak. Thomas Major Cullinan het voor die oorlog reeds in die gebied geprospekteer. Hy het ’n diamant in spoelgrond naby ’n plaasheining opgetel en het aangeneem dat dié diamant van ’n hoër liggende plek moes afgespoel het. In sy soektog het hy toe ’n nabygeleë koppie gevind waardeur ’n blou diamantdraende pyp geloop het.
Ná die oorlog het Cullinan daarin geslaag om die suidelike gedeelte van Elandsfontein te koop en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Op 26 Januarie 1905 is die grootste diamant in die wêreld, die Cullinan-diamant met ‘n gewig van 3 106 karaat, op dié grond gevind.
Die boek wat Edna geskryf het: ‘A Brighter Tomorrow: Memories of a South African Childhood’
Aankom
Dit is hoogs waarskynlik dat Sidney en Ivy in dié tyd op die delwersdorpie aangekom het. Edna het later ‘n boek, ‘A brighter tomorrow – Memories of a South African childhood’, geskryf, waarin sy sê dat sy kan onthou hoe Thomas Cullinan by hulle aan huis gekuier het. Sy kon hoogstens vyf jaar oud gewees het met so ‘n besoek, want die gesin is in 1914 daar weg toe Edna se pa by die myn afgedank is.
Edna se sussie, Jessie, is op 30 Maart 1911 in die delwersdorpie gebore maar haar broer, Leonard Sidney, is op 4 September 1914 gebore toe haar pa reeds weg was oorlog toe en dinge tussen Sidney en Ivy lelik begin skeefloop het.
Edna se oupa aan vaderskant, Alexander Walker
Foto: Geni
Rekords dui aan dat Leonard in Oos Londen in die Oos-Kaap gebore is. Die swanger Ivy het haar twee voorskoolse dogtertjies gevat en die delwersdorpie verlaat om terug te keer na haar familie – sy was verwant aan die Greens van Smiling Valley Farm in Oos-London.
Ivy was die negende en laaste kind van Robert Frederick Green en sy vrou, Louisa Jane, ‘n nooi Nash. Sy is op 19 Oktober 1885 op Buffelsfontein in die Port Elizabeth-distrik gebore.
Edna se eerste man, Archie Charles Richardson
Foto: Geni |
Edna het ‘n verhouding met Alfred William Rogahn gehad
Foto: Geni |
Sidney is op 10 Julie 1886 in Uitenhage in die Kaapkolonie gebore. Hy was een van agt kinders van die immigrante, Alexander Walker en sy vrou, Catherine Ann Robinson, ‘n nooi McKay.
Catherine is in 1845 in Buenos Aires gebore en is op 19 September 1861 in die Kaap met Alexander Walker getroud. Alexander is in 1839 in Fort Augustus, Skotland gebore.
Dit is nogal ironies dat Sidney, die seun van dié immigrante, ook geïmmigreer het, die keer na Amerika, maar dat sy eie seun weer teruggekeer het na Suid-Afrika. Dit is nie bekend wat Ivy en haar drie kinders, Edna, Jessie en Leonard, van 1914 af in die Oos-Kaap gedoen het nie. Rekords dui aan dat hulle tot in 1920 daar was.
Alfred William Rogahn is later van sy vrou, Anne Mathilda, geskei
Foto: Geni
Amerika
Die storie lui dat Sidney ná die Eerste Wêreldoorlog Amerika toe is, maar dat hy gedeporteer sou word as sy gesin nie by hom aangesluit het nie. Ivy en haar kinders was genoop om te seil. Hulle het in Julie 1920 aan boord van die SS Lapland by Ellis-eiland in Amerika aangekom. Van daar is hulle na Omaha vir ‘n hereniging met Sidney wat glo glad nie suksesvol was nie. Sidney het in Maart 1921 soos ‘n groot spelt verdwyn.
Ivy het daardie selfde jaar doof geword ná ‘n mastoïed-probleem en het ook in die een oog blind geword. Sidney en Ivy is geskei en Ivy is eers 23 jaar later, in 1944, weer getroud, dié keer met John Szibel.
Die dowe en half blinde Ivy was alleen toe haar dogter Edna vir die eerste keer in 1927 in Omaha met Archie Charles Richardson getroud is. Hy is op 24 Mei 1904 in Pawnee City, Richardson, Nebraska gebore.
Andrew MacAoidh Jergens en sy vrou, Linda Busken. Andrew is Edna en Alfred William Rogahn
se seun
Foto: The Andrew Jergens Foundation
Edna en Archie het een seun gehad, Leonard Charles Richardson, wat in 1930 gebore is. Hulle is glo knap ná sy geboorte geskei en die egpaar het hulle seuntjie in ‘n weeshuis in Wisconsin gesit. Dit is in dié tyd wat Edna die boek oor haar kinderdae in Suid-Afrika begin skryf het.
Edna het in Omaha gebly en het daar ‘n buite-egtelike kind gehad by Alfred William Rogahn, ‘n getroude man wat reeds verskeie kinders gehad het. Alfred is op 2 Desember 1894 in Milwaukee, Wisconsin gebore.
Hy is later van sy vrou, Anne Mathilda, geskei, maar tog het Alfred en Edna nooit huis opgesit en na hulle seun, Andrew MacAoidh, omgesien nie. Andrew is na Illinois gestuur om daar aangeneem te word. Edna is daarna ‘n verdere drie keer getroud en geskei, die laaste keer van Kay Cecil Booth. Sy het geen verdere kinders gehad nie.
Edna se seun, Andrew, is deur Andrew Nicholas Jergens aangeneem
Foto: The Andrew Jergens Foundation
Seuns
Ten spyte van, of miskien juis oor hulle beginjare, het altwee Edna se seuns grootgeword om ‘n rol in liefdadigheid te speel. Haar eerste seun, Leonard Charles Richardson, wat na ‘n weeshuis gestuur is, het in 1960 by die Brite Divinity School by Texas Christian University in Ft Worth ingeskryf.
Hy het in 1964 as predikant gekwalifiseer en betrokke geraak by hulp vir minder bevoorregtes. Leonard het in 1992 afgetree as die distriksbestuurder van gemeenskapsorg-lisensiëring in Santa Rosa. Hy is op 1 Januarie 2014 in die ouderdom van 83 jaar oorlede.
Edna se eerste seun, Leonard Charles Richardson
Foto: Findagrave.com
Edna se tweede seun, Andrew, is deur Andrew Nicholas Jergens, wat The Andrew Jergens Foundation in 1962 in Cincinnati gestig het, aangeneem. Dié aanneempa is vyf jaar ná dié stigting, in 1967, oorlede en Andrew het die voorsitter van dié liefdadigheidsorganisasie geword.
Andrew is getroud met Linda Busken, ‘n kliniese maatskaplike werker van New York, wat saam met hom in die organisasie werk. Die organisasie se hoofdoel is om die gesondheid, opvoeding, kulturele ondervindings en sosiale welstand van kinders in die groter Cincinnati-gebied te bevorder.
Andrew word gereeld aangehaal deur te sê dat dit beter is om ‘n kind se ontwikkeling aan te moedig eerder as om ‘n volwassene te rehabiliteer.
Edna se sussie, Jessie
Foto: Findagrave.com
.
|
Edna se broer, Leonard Sidney Walker, is die enigste lid van die gesin wat terug gekom het na Suid-Afrika
Foto: Findagrave.com |
Opspoor
Andrew het sy ma, Edna, in Mei 1989 in Seattle opgespoor. In 1991 het Andrew en sy vrou Linda vir Edna op vakansie Suid-Afrika toe gevat. Edna is twee jaar ná die vakansie, op 7 Januarie 1993, in die ouderdom van 84 jaar in Seattle, Washington aan longontsteking oorlede. Sy is veras en haar as is by die Joseph van Arimathea kolumbarium by die Kerk van die Verlosser in Cincinnati, Ohio.
Edna se broer en suster het altwee tot diep in hulle negentigs gelewe. Leonard het in 1935, toe hy 21 jaar oud geword het, teruggekeer na Suid-Afrika waar hy met Joyce Cecil Heathcote getroud is en ‘n gesin grootgemaak het. Hy is in die ouderdom van 99 jaar op 15 November 2013 in George, Oos-Kaap oorlede. Op sy versoek is sy asse by Leentjiesklip, Wildernis oor die Indiese Oseaan gestrooi.
Edna se as by die Joseph van Arimathea kolumbarium by die Kerk van die Verlosser in Cincinnati, Ohio
Foto: Findagrave.com
Edna se sussie, Jessie, is in 1930 in Rockport, Winnebago met Hans Andreas Widding getroud. Hulle het twee seuns gehad, George Clarence en Edward Paul. Op 30 Mei 1943 het sy ‘n tweede keer getrou. Dié keer met Herbert Henry Beck en hulle het ‘n dogter, Sharon Paula, gehad. Jessie het 95 jaar oud geword en is op 3 Maart 2007 in Demorest, Georgia, oorlede.
Edna se ma, Ivy, het 87 jaar oud geword. Sy is op 5 April 1973 in Ellenwood, Georgia, Amerika oorlede. Edna se pa, Sidney, het 75 jaar oud geword en is op 18 Februarie 1962 in Saskatoon, Saskatchewan, Kanada oorlede.
|