Ronnie Reverse en sy Wagtertjie PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 28 January 2019 10:07
Untitled Document

Dit was net ná dagbreek op ‘n stowwerige Karoodorpie, sê Gert Mossie, toe hy ‘n aardigheid sien wat hy in sy dag des lewens nog nie gesien het nie.

Hy het buite onder ‘n bloekomboom gesit en sy eerste koffie van die dag geniet, sê Gert. Die dorpie was grootliks nog in ‘n diepe nagrus gedompel. Net hy, ‘n paar regte mossies en ‘n groepie verspreide dorpshane het al met die nuwe dag begin. Of só het Gert gedink.

Dit is toe dat hy doer bo in die kersreguit stofstraat ‘n enkele beweging sien. ‘n Man is besig om baie stadig in die straat af te stap – weg van waar hy met sy koffie gesit en waarneem het. Of só het dit gelyk.

Hy staar na die stadig bewegende figuur in die middel van die grafstil straat en wil hom verbeel dat die ou nie verder weg loop nie, maar dat hy sweerlik besig is om nader aan Gert se uitkykpunt te beweeg.

Hy skud sy kop en knip sy oë, want wat hy daar sien, laat hom vermoed dat die skerp oggendson en die oopte van die Karoo straks kulkunsies met sy oge speel. Die figuur kom beslis nader, maar tog loop hy anderkant toe. En toe sien hy, sê Gert, dat die man in die stofstraat agteruit loop. In trurat kom hy langsaam nader, kan hy maar sê.

Weens die stomme man se unieke tegniek, is die vordering erg langsaam. Eers gee hy so halwe treetjie met sy linkervoet – agtertoe en weg van die rugkant af en dan sleep hy die regtervoet nader tot dit netjies langs die ander voet is. En so word die moeisame proses telkens herhaal.

Eers toe die ou so entjie nader is van waar Gert Mossie sit, sien hy die bont brakkie. ‘n Paar tree agter die truratloper stap ‘n swart-en-wit hondjie geduldig die stofpad af. Nes jy oral hondjies agter hulle base sou sien aanstap, sê Gert, maar in dié geval sou jy kon dink die brakkie stap voor die man agter hom aan. Hond en baas kyk mekaar stip in die oë, terwyl die hondjie agter die man aanstap.

Die wandelaars sukkel nog nader toe Gert begin om die reistasse uit die oorblyhuisie na die kar toe aan te dra. Met die hoeveelste aandraslag sien hy die agteruitou het tot by die draadheining van die oorblyhuisie gevorder. “More, meneer,” roep hy en Gert stap nader.

Kan hy nie help met die tasse en goed nie, of enige ander los werkie. Hulle is baie honger, sê die man en hy stel homself voor: “Ek is Ronaldo Adams, meneer, maar hulle noem my sommer Ronnie Reverse.”

Ronnie stel sy hondjie, wat plat op die maag op die gewone volgafstand lê en wag, ook voor: “Dit is ou Wagtertjie.”  Nogal ‘n gepaste naam, dink Gert.

Tyd om Ronnie se vaardighede met tasse dra en los werkies te beproef, is daar nie genoeg nie, maar hy stop hom ‘n noot in die hand, want hy kry hom jammer en daarby het Ronnie dit verdien, sê Gert Mossie.

Met oordadige dankies agter die rug, sukkel Ronnie Reverse by die randsteen af en hy en Wagtertjie kies weer hulle agterstevoor koers in die rigting vanwaar hulle gekom het. Hy wil hom verbeel of die wegstap heelwat vinniger is as wat die aankom was, sê Gert.

Hy staan nog so en kyk na die twee se vordering toe daar ‘n ander ou stadig met ‘n trapfiets verbykom.

Die fietsman lig sy hoed, groet en laat so ewe hoor: “Ja, dis nog lekker vroeg. As ou Ronnie Reverse so aanhou aanstap, gat hy net betyds wees as die bottelstoor oopmaak.”

 

© 2019 Die/The Bronberger