Dit is brulpadda-seisoen PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 28 January 2019 09:59
Untitled Document

Januarie en Februarie is reuse brulpadda-tyd. ‘n Mens sien dié brulpaddas net een of twee keer ’n jaar en dit net wanneer dit goed gereën het.

Die bedreigde reuse brulpadda, Pyxicephalus adspersus, oorleef in die droë seisoene deur ‘n diep gat te grou waarin hy vir homself ‘n waterdigte kokon opbou wat verhoed dat sy liggaamsvog verdamp.

Die kenners sê dat die kokon eintlik maar net sy eie ou velle is. Brulpaddas vervel ‘n hele paar keer ondergronds en skuil dan in dié ou velle. Hulle kan vir etlike maande in droë grond oorleef deur die water te absorbeer wat in hulle blase gestoor word.


Die mannetjies het ‘n geel keel en die wyfies se keel is roomkleurig
Foto: Pavel Zuber in Biolib

Wanneer die reënseisoen begin en die vogtigheid in die grond insink, word die kokon nat en breek oop. Die brulpadda vreet die kokon op en grou homself uit sy gat uit – gereed vir die paarseisoen.

Dit is ook net in die reënseisoen wat ‘n mens die mannetjie se brul sal hoor, wat dié padda sy naam gegee het. ‘n Brulpadda sal net brul as hy klaar sy gebied afgebaken het.

Die reuse brulpadda is baie aggressief, veral in paringstyd, en skroom nie om indringers – hetsy mens of dier – aan te val nie. Dit doen hy deur dreigend op jou af te spring en, as jy nie vinnig genoeg padgee nie, sy skerp tande in jou in te slaan.

Dié vleisvreters kan byt dat die bloed loop. Hulle sal enige prooi wat hulle kan baasraak, vreet. Muise, klein voëltjies en ander paddas is algemene prooi, maar hulle sal selfs slange ook verorber.


Brulpaddas lyk dalk bedeesd maar hulle kan byt dat die bloed loop
Foto: Gabriel Schwerin

Die reuse brulpadda kan meer as twee kilogram weeg. Anders as die meeste ander paddas is brulpaddamannetjies groter as die wyfies. Die mannetjie kan tot 24 cm lank word.

Hulle velkleur is ‘n dowwe groen – die mannetjies het ‘n geel keel en die wyfies se keel is roomkleurig.

Kleintjies is helder groen met ‘n geel streep teen die rug af. Die streep verdwyn geleidelik as hulle binne omtrent ‘n jaar en half tot twee jaar volwassenheid bereik.

Anders as ander paddas is die reuse brulpadda se tone minder geweb. Hulle het baie sterk agterbene, wat nodig is om die diep gate te grou.


‘n Brullende mannetjie
Foto: Adrienne Kruzer

Wyfies lê gewoonlik drie tot vierduisend eiers in vlak water. Die eiers broei binne twee dae uit en die paddavissies is vet, hartvormig en grys tot swartkleurig. Hulle ogies is baie na aan mekaar en sit reg bo-op hulle koppe.

Die brulpaddamannetjie waak oor sy paddavissies en sal ’n kanaal grawe om sy nageslag na dieper water te lei as die dam begin opdroog.

Na omtrent 18 dae is die klein paddatjies omtrent 20 mm lank en kan die water verlaat. Die oorlewingsyfer vir dié klein brulpaddatjies is baie laag – net omtrent 20 persent van jong wyfies oorleef.
Die grootste bedreiging vir reuse brulpaddas is die vernietiging van die graslande en vleie wat hulle natuurlike omgewing is. Die tweede grootste bedreiging is die feit dat hulle doodgery word op paaie – veral in die nag ná ‘n swaar donderstorm.

 

© 2019 Die/The Bronberger