Kluitjiekorrels vir dié Piet Patatta PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 28 January 2019 09:58
Untitled Document

Die tiptol een van die heel laaste geveerdes om saans te gaan slaap. Teen sterk skemer, lank nadat die tarentale reeds bome toe is, is dié tiptol se geroep dikwels die enigste voëlgeluid wat nog te hore is.

Dit is juis dié roep van die swartoogtiptol, Pycnonotus barbatus, wat hom sy bynaam gegee het. Die ou mense noem hom Piet Kluitjiekorrel, omdat dit presies is hoe sy roep klink. In Engels sê hy glo “it’s a great privilege” of “blame it on the referee”.

Die tiptol maak ook ‘n herhalende, kras ‘tjit, tjit, tjit’ geluid wanneer hy verskrik is. Sy kwetterende roepe klink net soos dié van die rooioogtiptol wat droër streke verkies. Die Kaapse tiptol se roep word as ‘piet-piet-patatta’ beskryf.


Die swartoog tiptol
Foto’s: Wikipedia

Anders as wat ‘n mens sou dink as jy na sy naam luister, het die swartoogtiptol nie ‘n pikswart oogring nie – net ‘n sagte ongeveerde swart deel rondom elke oog. Hy word so genoem omdat hy nie ‘n duidelike oogring, soos die rooi oogring van die rooioogtiptol, het nie. Die swartoogtiptol verskil verder van die ander tiptolle deurdat daar minder kontras tussen sy donker kop en bors is.

Swartoogtiptolle is 19–21 cm lank met ’n vaal- tot donkergrys veredos en ’n lang stert. Die kop is roetswart, tussen die oog en die snawel byna geheel en al swart. Die vlerke is donkergrys en die stert is dofswart. Die buik is liggrys-bruin en daar is geel vere onder sy stert, vandaar nog ‘n volksnaam vir dié voël – bottergat of geelgat.

Sy snawel is redelik kort en dun. Die snawel, bene en voete is swart. Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes lyk net soos die volwassenes.


Die tiptol se eiers

Die swartoogtiptol bly waar daar bosse en bome is, veral in oewerbos, doringveld en voorstedelike tuine. Hy het tuine in groter getalle as baie ander inheemse spesies ingeneem.

Swartoogtiptolle word maklik gesien wanneer hulle in pare rondbeweeg of in klein groepies bymekaarkom waar daar volop ryp vrugte of nektar is. Die voëls is omnivore en sal ook insekte vreet.  

Hulle bou ‘n stewige koppievormige nessie met redelike dik wande in die blaredak van ‘n klein boom of struik. Die wyfie lê twee tot drie eiers, wat binne 12 dae uitbroei. Die kleintjies word deur altwee ouers grootgemaak.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger