Meer mans word deur vroue aangerand PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 28 January 2019 09:57
Untitled Document

Die voorkomssyfer van mans wat deur hulle vroue aangerand word, toon internasionaal ‘n merkbare styging.

So sê Elmo Pienaar, direkteur van Coram Deo Pastorale Narratiewe terapiesentrum in Waterkloof Glen.

“Ons moet onthou dat mans ook binne die gesinsraamwerk slagoffers van geweld kan wees. Dit sluit onder meer in emosionele, fisiese, en seksuele geweld,” sê Elmo.

Hy sê dat mans geneig is om hieroor te swyg. “Daar is ‘n skreiende kontras tussen die geslagte betreffende die hulp wat aan hulle gebied word, soos in die vorm van toevlugsoorde.”


Elmo Pienaar
Foto: Verskaf

Elmo sê dat elke mens wat by hulle sentrum om hulp aanklop terapie ondergaan wat daarop toegespits is om aan weerloses hulle stem terug te gee wanneer hulle tot stilswye geboelie is.

“Iemand wat sy stem terugkry, wat voel hy word gehoor, herwin sy agentskap van menswees. Ons voer letterlik duisende gesprekke elke jaar wat hierop fokus. Baie hiervan het ‘n element van geweld. Daar is boelie-geweld, emosionele afknouing en baie ander vorme van geweld wat op mense se lewens inspeel – ons sien dit elke dag.”

Elmo sê dat geweld alle lede van ‘n gesin raak, nie net die slagoffer en geweldenaar nie. “Kinders het ‘n spanpoging nodig om gesonde gebalanseerde volwassenes te kan word, “sê hy.

Hy sê daar moet ook gekyk word na spesifieke omstandighede soos in egskeiding waar mans en vroue albei op verskillende maniere aan geweld in die gesin deelneem.

 

© 2019 Die/The Bronberger