Sestig sakke rommel in twee weke gestort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 28 January 2019 09:51
Untitled Document

Berdine Bezuidenhout van Mooiplaats vertel hier in haar eie woorde hoe die rommelstrooiery langs die Bloupad vir haar eens te veel geword het.

Berdine Bezuidenhout

Net voor die feesseisoen het ek twee swart vullissakke op die bekende Bloupad in Mooiplaats gewaar, netjies afgegooi langs die pad vir iemand anders om op te tel. 

Slegte maniere soos dié is niks vreemd vir die inwoners van Mooiplaats en omliggende omgewing nie. Oral waar ’n mens ry kan jy sien hoe die rommel net meer word en niemand iets doen om dit op te tel of weg te ry nie. 


‘n Bakkievrag vol rommel wat langs die pad opgetel is
Foto’s: Berdine Bezuidenhout

Nietemin, soos Kersfees en Nuwejaar nadergekruip het, so het die vullissakke ook. Dit behoort aan “Iemand” maar beslis het die eienaars die verkeerde adres gehad waar hulle die sakke moes gaan aflaai het.

As inwoners van Mooiplaats en omgewing is ons al moeg en vies vir mense wat dink dat hulle enigiets vanaf bourommel tot ou matrasse, vullissakke en tuinafval langs die pad kan kom aflaai. 

Ná ’n kort vakansie het ek en my man teruggekom en die “aaklige verrassing” op die Bloupad na ons plot gekry. Groot was die skok toe ons die hope en hope sakke en bourommel daar gewaar. Binne slegs twee weke het die sakke gestyg tot ‘n berg gemors. 


Rommel op die Bloupad op 3 Januarie

Net na Nuwejaar, op 3 Januarie, het ek en my man besluit dat ons die sakke en gemors gaan optel. Dit het ons presies twee ure geneem om die gemors in ander sakke te gooi nadat van die sakke toe alreeds stukkend geskeur het en rommel oral begin rondwaai het.

Twee motoriste het in die verbyry hulle blydskap gedeel en een vrou se woorde het ons geraak. Sy het gesê: “Uit die diepte van my hart, baie dankie dat julle die vullis en hope gemors optel.” Sy was skoon bewoë en het ook haar misnoeë teenoor rommelstorters uitgespreek.


Sestig sakke vol rommel het in twee weke opgebou

Ons het die sakke by die naaste munisipale asblik netjies gaan neersit. “Gee my jou hart” is die gesindheid waarmee ons 2019 moet ingaan om ‘n verskil te probeer maak. Dit maak nie saak waar en hoe nie, maar probeer ten minste. Vir wie sal jy in 2019 jou hart gee om ‘n verskil in ons omgewing of ons land te maak?

 

© 2019 Die/The Bronberger