Luister na die stilte PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 28 January 2019 09:43
Untitled Document

Renier Meyer van die Bronberg-gebied skryf:
Dit is weer daardie tyd van die jaar. Die tyd wanneer die mensdom weer besig raak ná die somer sluimer van die vakansie. Die grootmense gaan terug werk toe, die kinders na die skool. Dit is al te maklik om weggevoer te word in die gedruis van die lewe.

Stop. Stop en luister. Luister na die stilte. Glo dit of nie, dit ís daar. Dit word gevind in die geruis van die bome. Dit word voorgedra deur die voëlgesang. Die rus en vrede kan gesien word in die sonlig wat oor die vlaktes dans en jou laatmiddag teen die gesig streel terwyl die horison blou-grys verkleur met die belofte van lang verwagte reën.

Wanneer jy al dié goed sien en hoor en ruik, stop. Onthou dat ons soms moet stop en asemskep sodat ons weer lug in die longe kan kry. Dán kan ons voortgaan met die wedren van die lewe.

Deur die jaar en die jare wat kom, neem ʼn oomblik om ons mooi wêreld te waardeer en asem te skep. Die vat nie lank nie, maar dit is soms net genoeg om jou die hupstoot te gee wat jy mag nodig hê.

 

© 2019 Die/The Bronberger