Ding in die drinkwater straks dreinvlieg se kind PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 07 December 2018 08:12
Untitled Document

Die onlangse hittegolf het ‘n plaag van dreinvlieë veroorsaak.

Die metro-munisipaliteit het ‘n waarskuwing uitgestuur dat daar ‘n dreinvlieg-besmetting is. Woordvoerder Lindela Mashigo het gesê inwoners moet bewus wees daarvan dat dié vlieë in staande water uitbroei en nou, as ‘n gevolg van die hoë temperature, hulle eiers in die oorlooppype van baddens en wasbakke lê.

Volgens Lindela kruip die vlieë gereeld binne-in krane om hulle eiers te lê. Hy sê dat die larwes, wat dan later in die bad of wasbak gevind word, nie van die munisipaliteit se waterpype of van boorgatwater af kom nie.


Die dreinvlieg,Clogmia Albipunctata is omtrent 2 mm lank
Foto: Wikipedia

Lindela sê inwoners kan bleikmiddel rondom en binne-in krane en die oorlooppype van wasbakke en baddens spuit om die larwes dood te maak. Gebruik warm water om die bleikmiddel weg te spoel.

Maak seker dat daar nie staande water in kombuis- of badkamer-wasbakke is nie en hou oorlooppype skoon.

Wêreldwyd is daar meer as 2 600 soorte dreinvlieë, wat ook motvlieë genoem word. Die een wat die algemeenste by ons voorkom, dra die naam Clogmia albipunctata. Die larwe is 4–5 mm lank met ‘n swart kop. Soos muskietlarwes, kan hulle nie suurstof uit die water absorbeer nie en moet opkom om asem te skep. Dit is dan wat ’n mens dié wurmpies teen die bad se rand sal sien vasklou.

Die larwe-fase hou tussen nege en 15 dae, afhangende van die spesie en temperatuur. Die papie-fase is tussen 20 en 40 ure lank en in dié stadium voer die insekte glad nie. Hulle bly onderwater, maar naby die water se oppervlakte sodat hulle deur ‘n asemhalingsopening asem kan kry. Die volwasse dreinvlieg breek deur ‘n soom in die omhulsels en verskyn op die water se oppervlakte.


Die larwe is 4–5 mm lank
Foto: BugGuide.net

Dié vlieë is die helfte van die larwes se lengte en het harige vlerke, wat soos ‘n staandak oor die lyf gehou word. Hulle is meestal snags aktief en broei net een keer in hulle leeftyd van 20 dae. Die wyfie lê 30 tot 100 eiers in klam dreine net bo die waterlyn. Die eiers broei binne 48 uur uit as dreinwurms, die larwe-vorm.

Die algemene dreinvlieg dra nie enige menslike siektes nie, maar is bekend as opportunistiese agente van brommerinfeksie.

Volgens Wikipedia het bleikmiddel nie juis ‘n groot effek op dié dreinvlieë en hulle larwes nie. Die beste manier om hulle uit te roei is om dreine skoon te maak, omdat dit hulle bron van voedsel wegneem.

 

© 2018 Die/The Bronberger