Streng regulasies teen vuurwerke PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 07 December 2018 08:11
Untitled Document

Die feesseisoen is ‘n nagmerrie vir diereliefhebbers wie se troeteldiere jaarliks wegraak, beseer word en selfs doodgaan wanneer vuurwerke afgeskiet word.

Alle private vuurwerkvertonings moet vooraf deur die Tshwane Nooddienstedepartement goedgekeur word. Daar moet aan sekere vereistes voldoen word voor ‘n aansoek om vuurwerke af te skiet deur die departement se vuurbeveiligingsafdeling oorweeg sal word. Die gebied waar vuurwerke afgeskiet word moet ten minste 100 meter vanaf geboue, paaie en treinspore wees. Dit moet ten minste 20 meter vanaf telefoon-, telegraaf- en kragdrade asook bome of enige ander oorhoofse obstruksies wees.

Daar mag nie mense wees in ‘n gebied van 50 meter voor en langs die punt waarheen die vuurwerke geskiet word nie. ‘n Strook van ten minste 100 meter agter die vuurwerke moet skoongehou word vir vallende oorskot.

Aansoek moet gedoen word by die Stad Tshwane Metromunisipaliteit by die hoof van nooddienste, Posbus 440, Pretoria, 0001 of die nooddienstestasie op die hoek van Bosman- en Minnaarstraat. ‘n Sketsplan op ‘n skaal van 1:500 van die gebied waar die vuurwerke afgeskiet gaan word, moet ingedien word.

Op dié plan moet die volgende aangedui word: Die naaste geboue, paaie, spoorlyne, telefoon-, telegraaf en kragdrade, asook die naaste bome, verversingsarea en posisie waar die vuurwerke gestoor gaan word voor dit afgeskiet word.

Die aansoek moet aandui in watter rigting die vuurwerke afgeskiet gaan word met vermelding van die heersende windrigting. Dit moet aandui waar die mense gaan byeenkom om na die vuurwerke te kyk en waar die gebied is wat skoongehou gaan word vir vallende oorskot.

Elke gebou, boom, oorhoofse draad en obstruksies binne 200 meter vanaf die terrein moet op die plan aangedui word. Daar moet ook aangedui word waar skadelike middels en brandbestrydingstoerusting gaan wees. Die plan moet die ingang en uitgang na die terrein aandui asook die posisie van diensstasies op of langs die terrein.

‘n Brandveiligheid-inspeksie sal by die terrein gedoen word en die aansoeker moet teenwoordig wees. Skriftelike goedkeuring of afkeuring sal gestuur word.

Die gebruik van vuurwerke word deur die Wet op Plofstof gereguleer. Slegs handelaars wat ingevolge dié wet gelisensieer is, mag vuurwerke verkoop. Enige mens wat dié regulasies oortree, kan skuldig bevind word aan ‘n oortreding en kan ‘n boete of tot 12 maande tronkstraf kry.

Meld elke geval van die misdadige afskiet van vuurwerke in jou voorstad, hoewegebied en dorp by die polisie, metropolisie en jou buurtwag aan. Konfronteer die oortreders saam met ander geteisterdes in jou omgewing en maak hulle op ‘n kalm wyse bewus daarvan dat hulle die wet oortree. As jy ‘n winkelier raakloop wat vuurwerke verkoop, vra om sy toestemmingsdokumentasie te sien. As hy dit nie kan wys nie, meld dit aan.

Munisipale noodnommers wat geskakel kan word, is 012-310-6300 / 6400.

 

© 2018 Die/The Bronberger