Tjaart het dringend hulp nodig PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 07 December 2018 08:07
Untitled Document

Tjaart Van Der Walt van Bapsfontein het dringend fondse nodig vir sy kankerbehandeling. Hy moet bestraling kry omdat ‘n groot gewas sy hart wegdruk van sy slukpyp en druk op sy hartare uitoefen, wat ‘n hartaanval tot gevolg kan hê.

“My man is maar 44 jaar oud,” sê sy vrou Louise. Sy sê dat hulle al R55 000 ingesamel het, maar dat die bestraling R180 000 kos.

Louise vertel dat Tjaart in 2013 met skildklierkanker gediagnoseer is. Sy skildklier is verwyder, hy het bestralings ondergaan en is kankervry verklaar. Op 24 Augustus het hulle gehoor dat die kanker baie aggressief teruggekom het.

Dit het na sy longe en bene versprei en hy het ‘n nuwe rare soort kanker, Hürthle selkarsinoom, bygekry. Jaarliks word slegs 3% tot 5% van mense met dié kanker gediagnoseer.


Tjaart Van Der Walt

“Ons moes ’n paar maande gelede ons mediese fonds, waarop ons vir 13 jaar was, kanselleer oor finansiële druk,” sê Louise. “Toe ons uitvind van die kanker, is ons na Steve Biko-hospitaal verwys.

Daar het dit baie stadig gegaan met die toetse en ons het toe meeste van die toetse en bloedtoetse deur Unitas laat doen.”

Dr Biddulph by Unitas het vir Tjaart gesê dat daar slegs een uitweg is – nuwe chemo-pille, Nexavar, wat R28 000 ’n maand kos vir 120 pille. Tjaart moet dié pille vir ses maande drink. Hy moet ook vir ses weke aaneen die bestraling, wat R180 000 kos, kry.

Louise sê dat hulle intussen weer by ’n mediese fonds aangesluit het, maar dat Tjaart se behandeling vir die eerste jaar nie deur die medies gedek sal word nie.

“Ons moes alles privaat betaal, maar het nie die fondse nie,” sê Louise. “Ons as gesin vra asseblief of enige mense bereid sal wees om ‘n skenking te maak.”

Mense is welkom om met dr Biddulph te praat by 012-664-1027. Bel Louise by 081-066-5725 of vir Tjaart by 066-475-7057.

Skenkings kan as volg gemaak word: LJ van der Walt; Nedbank tjekrekening; tak: 101224; rekeningnommer: 1137436859; verwysing: Donasie.

 

© 2019 Die/The Bronberger