Geliefde Jessica is oorlede PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 07 December 2018 08:06
Untitled Document

Jessica Coetzee, die blakend gesonde dogtertjie wat in Mei 2015 met haar kapokkie op ons voorblad gepronk het, is op 24 November oorlede.

Jessica is van haar baba-dae ‘n bekende in Cullinan se Oaklaan toe haar ouma, Cathy, haar trots in haar stootwaentjie aan besoekers voorgestel het. Cathy en haar beeldhouer-man, Johan, is die eienaars van Trading Post.

Jessica is in Januarie, toe al haar graad R maatjies groot skool toe gegaan het, met Rhabdomyosarcoma gediagnoseer – ‘n soort kankergewas wat tussen die oor, nek en skedel groei.

Die gewas het die verlies van gehoor in haar linkeroor veroorsaak en het die senuwees van haar linkeroog, gesigspiere, tong en keel verlam. Dit het na probleme met balans gelei en Jessica moes al haar voedingstowwe inkry deur ‘n pyp, wat direk na haar maag gaan.


Jessica, toe sy op 29 Oktober in die hospitaal wakker geword het

Jessica het op 24 Oktober haar laaste chemo-behandeling ondergaan. Johan het laat weet dat hulle op dieselfde dag gehoor het dat die kanker ten spyte van die behandeling na haar brein en rug versprei het. Sy het met haar behandeling ’n terugslag gekry en het daarna ophou reageer. Sy was met tye wakker, maar het die meeste van die tyd geslaap en toetse is beplan om breinfunksies te toets.

Johan het op 29 Oktober laat weet dat Jessica wakker is. Sy het nog nie gepraat nie, maar het alles verstaan en het sekere dinge vir haarself gedoen. Hy het gesê dat sy vinnig besig was om te herstel en dat die dokters tevrede was.

Jessica is die middag van 24 November rustig in haar slaap oorlede. Die familie wil graag dankie sê aan almal wat vir Jessica bly bid het. “Ons waardeer julle almal opreg.”

Jessica se begrafnis was op Vrydag 30 November by die Cullinanse begraafplaas.

 

© 2018 Die/The Bronberger