Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 18 May 2009 14:43
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat die kransduif ’n groot voorliefde vir sout het. Kransduiwe pak ’n blok wildlek toe waar dit ookal uitgesit word in wildtuine, op plase of kleinhoewes. By die kus pik hulle gereeld aan rotse waarop soutwater droog geword het.

Wetenskaplikes wonder nog of dié voëls, soos sommige ander grasvreters, ’n behoefte aan sout het of net baie daarvan hou. Kransduiwe vreet hoofsaaklik grassade, maar ook mielies, koring, sorghum en verkies blykbaar swart sonneblomsade bo die wittes. Hulle vreet ook sekere soorte vrugte, soos dié van die dubbeltjie, Tribulus terrestris.

Dié voëls vreet hoofsaaklik van die grond af en vlieg elke dag ver vanaf hul oornagplekke na hul voerplekke. Kransduiwe kom natuurlik voor in rotsagtige berge, kranse, klowe en rotskoppies. Hulle het egter goed aangepas in stede en maak nes in hoë geboue of op huise se dakke.


Die kransduif kan uitgeken word aan die rooi dele rondom sy oë
Foto: Wikipedia

Vlekke
Die kransduif, Columba guinea, word maklik uitgeken aan die kaal rooi vlekke rondom sy oë. Dié 33 cm lange voël het wynrooi vlerke met wit kolle, rooi bene en ’n swart snawel. Sy kop en onderste dele is blou-grys en sy stert is grys met ’n swart punt. Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes het nog nie die rooi kleur op hulle gesigte nie. Hulle word soms verwar met die geelbekbosduif. Die bosduif is egter groter en donkerder met heldergeel kaal vlekke rondom die oë, ’n geel snawel en geel bene.

Die kransduif se roep is ’n dreunende, diep ‘hooo-hooo-hooo’-geluid en hy maak ook ’n sagter ‘koekoekoekoe’- geluid.

’n Kransduif kies net een maat vir die res van sy lewe, maar kan ’n ander een kies as sy lewensmaat te sterwe kom. In die broeiseisoen sal die mannetjie hoog in die lug opvlieg en dan in sirkels rondvlieg om die wyfie te beïndruk.

Broei
Hulle kan dwarsdeur die jaar broei en die nes is ’n wankelrige platform van stokkies, takkies, onkruid en gras wat op die rand van ’n krans of gebou geplaas word. Daar word twee wit eiers gelê en dit vat 15 tot 18 dae vir die eiers om uit te broei.

Die kuikens se vel is ’n rooierige pienk met geel donsies. Hulle bene, voete en tong is ook pienk, maar die snawel is donkergrys tot swart. Die kuikens bly ongeveer 25 dae in die nes, voor hulle begin vlieg. Die mannetjie en wyfie neem beurte om te broei, en beide help om die kuikens te voer en versorg.

 

© 2020 Die/The Bronberger