Grondpad-woede PDF Print E-mail
News - Briewe
Friday, 07 December 2018 07:58
Untitled Document

Selma Kromhout van Bashewa skryf:
Kyk! Genoeg is genoeg! As ’n mens nie selfrespek het nie, het jy dit ook nie vir andere nie. Op Dinsdagmiddag, 27 November was ek op pad na die kleinhoewe wat ek al vir drie jaar op Bashewa huur. Ry rustig, het diere in my 20-jarige opgepaste Fiat Palio. Die modelle het nog met flikkerligte uitgekom!

Mev Kia 4×4 nuwerige model is sigbaar in my truspieëltjie. Nou is ek by die einde van die teerpad en dis nog 1 km grondpad huis toe. Uit respek vir mense wat teenaan die grondpad bly asook voetgangers en mev Kia se pragstuk, ry ek stadig om stof te voorkom.

Besluit mev Kia: Gee pad jou suurstof dief! Sy jaag verby dat my honde skrik soos klippe my Palio soos skote tref en die stof soos ’n wolk om my ou karretjie vou.

Toe kom daar iets in my uit en ek gee vet en gee mev Kia haar eie medisyne terug. By my afdraai stop ek dat stof trek, klim uit en hol vinnig die pad in, want ek wil haar stop, maar madame jaag net voort.

Sondae as werkers langs die pad stap met hulle beste klere aan op pad kerk toe met kinders aan die hand, word dieselfde gedoen. ’n Ruk gelede het iemand ’n bejaarde oom wat met sy honde gaan stap het so onder die stof gery dat hy vooroor gebuk gaan staan en hoes het! Hy kon nie asem kry nie; die trane het uit sy oë geloop. Ek het hom gehelp. 

Die verkeersmanne kan lekker vet bonusse hier op die paaie verdien vir Desember. Is hier werklik niemand wat die boelies op die plotte tot inkeer kan bring nie? Dalk sal spoedwalle help en breinselle weer begin werk na ’n paar kopstampe.

Brief verkort. – Red

 

© 2018 Die/The Bronberger