Ek onthou nog PDF Print E-mail
News - Briewe
Friday, 07 December 2018 07:57
Untitled Document

Daan Visser van Equestria skryf:
Ek woon nou al vier jaar in ’n kompleks in Equestria en die gebied het oor die afgelope dekades ingrypend verander. 

Met al die voorgenome ontwikkelings wat oos van Hazeldean in die vooruitsig gestel word, asook ’n Gautrein-stasie aldaar, sal die landelike karakter van die omgewing oor ’n paar jaar onherroeplik verander word.

Ek onthou nog toe dit alles landbouhoewes was. Ongeveer 20 jaar gelede was daar byvoorbeeld langs Furrowweg nog ’n perdryskool. Ek verstaan die gronde van die Every Nation Kerk wes van Libertaslaan het aan Paul Kruger behoort en die strooidakhuis was sy vakansiehuis gewees.

In Meadowlaan het ’n mev LaPonder gewoon, wat na bewering mense deur aanraking gesond gemaak het.

My vorige navraag oor die Ou Wapad, wat gelei het tot die naam Wapadrand, is in die April 2016 uitgawe van dié blad beantwoord. Koos Reyneke het die wapadroetes op ’n kaart aangedui, en tekens van hierdie roetes is vandag steeds sigbaar.

Die naam Equestria het glo ontstaan as gevolg van die perdestalle en perderesies wat hier gehou is.
Ek verneem graag of Die Bronberger vroeër artikels oor perde en resies gepubliseer het, of foto’s van die perdebedrywighede besit.

Ek sal ook by die eienaar van die stoorplek in 492 Furrowweg (Lynnwood Storage), wat vanaf 1967 hierdie landbouhoewe besit het, navraag hieroor doen. Sy gronde kyk noord uit op die “Furrow” wat eintlik ’n rivierloop is.

Ons het voorheen berig oor destydse perderesies op dit wat vandag die Rietvlei View landgoedontwikkeling is. Kokkie Erasmus het ’n perderesiesbaan gebou wat vandag as Sinovichrylaan bekend staan, wat van Garstfonteinweg-verlenging tot by die Delmaspad loop. Ons het ongelukkig nie foto’s van Equestria in die ou dae nie. Lesers wat foto’s van dié vroeëre perdebedrywighede het, is welkom om dit na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it te stuur of om 012-734-0522 te skakel.

 

© 2019 Die/The Bronberger