‘n Lekker kouery by dié ‘nuwe’ brouery PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 20 November 2018 14:59
Untitled Document

Jare gelede het ons op ‘n dag by Cullinan se ‘vliegtuigbefoeterde bierplek’, die Cockpit Brewhouse gedraai. Dit was ‘n heel aangename ervaring (behalwe vir my koskeuse op dié dag) en daarom was ons hartseer toe die plek op ‘n jammer dag sy deure sluit.

Toe, onlangs, maak die deure weer oop en ons sit op ‘n Saterdag af soontoe. Die kuierplek, aan die voetenent van die dorpie se Oaklaan, het ‘n nuwe eienaar, ‘n nuwe kroegingenieur, ‘n nuwe spyskaart en ‘n nuwe sjef. Wat nie verander het nie, is die tuisbier (boetiekbier, noem hulle dit) wat almal die name van legendariese vliegmasjiene dra. Die kelners bring vir jou proe-glasies van elke brousel aan, sodat jy kan besluit watter een of meer jou geval. Spitfire, Mustang, Hells Bells, Fokker (regtig ook ‘n vliegtuig) en Black Widow, is van jou keuses.


Die kuierplek is met ’n wolkbreuk van kunsmatige mis omsirkel

Ons neem plaas by ‘n stewige houttafel op die dek onder ‘n rektent. Voor ons drentel besoekers heen en weer in Oaklaan. Almal blyk rustig en in ‘n gemoedelike stemming te wees. Onder die rektentdak kuier en klets groepies kuiergaste en lag sporadies. Groot luidsprekers verskaf geblikte musiek vanaf die verhogie waar ‘n kunstenaar nou-nou met kitaar en stem aan die beurt sou kom.

Somertyd kan dit ongemaklik warm word onder so ‘n seildak en as teenvoeter het die nuwe mense van die Cockpit die plek met pypies wat misreën spuit, omsirkel. Die kunsmatige misreën (sou ‘n mens dit kunsmis kan noem?) is hier baie doeltreffend en nêrens het ek al so ‘n stelsel so oordadig sien werk nie. Jy kan dit amper die wolkbreuk van kunsmis noem. Dik miswolke waai oral in die windjie rond.


Fritz Gun doen sy ding

‘n Gawe kelner bring die nuwe spyskaart aan en vat weer fluks die pad om vir ons ‘n iets-te-drinke te loop haal. By Cockpit kan jy kontinentale ontbyt (R45), Engelse ‘brekfis’ (R55), of Franse roosterbrood (R45) beproef of jy kan jou eie omelet uitdink.

Vier voorgeregte en vyf slaaisoorte, waarvan die slaai met biltong en bloukaas die oog vang, kan bestel word. Ligte etes soos nachos (R59), vis in ‘n bierbeslag (hoe anders?) met skyfies of ‘n Prego-broodjie kos R75.

Mandjies met allerlei soos samosas, calamari, frikkadelle en nog sewe ander items kan ook deur jou uitgedink word.

Die hamburgers kos tussen R45 en R75. Die paartjie by ons buurtafel bestel burgers en ek staan verstom oor die stewige burgerfrikkadel en byvoegsels. Buurman is ‘n groot kêrel en ek sien hoe hy sukkel om die gedoente baas te raak.


Smaaklike, sousige stertpunte

Ek en Metgesel maak ons koskeuses uit die vier disse wat onder ‘specialities’ gelys word. Myne is die beesstert met Basmatiese rys teen R129 en Metgesel s’n is die groen Thai-hoenderkerrie met lietsjies en rys teen R110. Teen ‘n ietsie ekstra kan jy groente en dies meer saam met jou spesiale dis aanskaf.

Gawe kelner bring ‘n stewige porsie van beesstert aan. Opvallend is dat my bord uitsluitlik met die dun puntkante van die stert gelaai is, maar ek kla nie. Die dunner stertstukkies is murgsag, sousig en baie smaaklik. Ja, lanklaas ‘n lekkerder stert ingewerk.

Metgesel is baie ingenome met die lietsjiesmaak in haar Thai-hoender. Volgens haar byt die gereg nogal met mening, maar darem nie om stukkend te byt nie, sê sy.

Jy kan ook nagereg of nog bier bestel, sou jy na ‘n lekker stewige ete daarna voel.


Die hoenderkerrie byt darem nie stukkend nie

Terwyl ons langsaam kuier, eet en drink loop sit die kunstenaar van die dag op die verhogie en trek los.

Hy noem homself Fritz Gun en ons geniet sy musiek. Die outjie ken sy kitaar en hy het ‘n goeie en hoorbare sangstem.

Dit is baie goeie nuus vir ons dat die Cockpit Brewhouse weer hoog vlieg.

Jy kan navraag doen by 066-270-9153.

 

© 2018 Die/The Bronberger