Koos se Katjie herontdek Juliana se goue kruipmol PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 20 November 2018 14:58
Untitled Document

Koos Reyneke

In 1983 koop ek twee Bronberg-stukke grond van 10 ha elk. Met vyf ander begeesterdes, skep ons Wapadrand se byna 300 erwe en byna 40 ha berg bly oor in drie dele.

Die onversekerde grasdakkliphuis wat ek in die berg bou, brand op 17 Desember ‘86 af, pas voor ons sou intrek en terselfdertyd soek die bank miljoene rande vir uitstaande kostes aan Wapadrand se strate en dienste.

Alles waai en ek “vlug” na ‘n aangrensende Bronbergplasie wat oor die kruin strek, waar ek ook ‘n plankplakkershuis bou (soos reeds byna dertig ander plakkers se meer beskeie kasarmpies).

Ewe vriendelik, woordeloos, met strategiese plasing van ‘n skedel, ‘n los been of drie, ‘n slang se geraamte en ‘n paar stukkies lap, boombas en ‘n skoenvel, het die kruinplakkers self opgepak om elders veiliger blyplek te soek, versterk deur ‘n kwaai Koedoebergweg-eienaar se “oortuigingsvermoë”.

Laatmiddag bekyk ek my plaasarbeiders se handewerk van die dag omdat ek noodgedwonge, voldag piepklein huisies in Soweto bou. Ek skrik my boeglam toe ek in die bergstilte ‘n geluid agter my hoor. Ná lank doodstil sit, sien ek ‘n beweging tussen los steierplanke. ‘n Wilde wit verwaarloosde siamese kat, wat hoenderbeentjies soek waar die werkers in die dag vuurmaak.


Let op hoe klein Juliana se goue kruipmol is in vergelyking met die onskuldige belangstellende kat

Drie dae later hol sy nie meer weg as ek haar taal praat nie, maar die oomblik as ek regop staan, laat spaander sy die berg in.

Ná ons ingetrek het, moet ek in die koue Mei-nag kaggelvuur maak. Met die omdraai om nog hout te gaan haal, gewaar ek haar in die koue buite sit waar sy deur die glas na die gesellige vuurtjie, staar. Sultan, die vredeliewende Labrador, grom en blaf en weg is sy. Baie duidelik laat ek hom verstaan: Nee!

Ek gaan haal ‘n pierinkie melk en sit dit net buite die glasdeur op die vyfde kliptrap, skuur die piering oor die klip en praat gerusstellende kattaal so goed ek kan, stap weer na binne en maak die deur toe, terwyl ek aanhoudend sag met Sultan praat en hom kalmeer.

Ek hou haar dop tot die laaste lekkie en hou Sultan die dood voor die oë, as ek versigtig die plank en glasdeur ooptrek. Katjie antwoord my inroep, skuur teen my met haar stert met die verbystap, skuur ook haar stert teen Sultan, reguit op pad kaggelvuur toe en spring op Paulette se skoot.

Katjie het uit dankbaarheid daarna, veral naweke, gereeld vir my kos gebring: Meestal slange, twee keer ‘n bergadder en een nagadder voor my bed kom neersit. Op 22 November ‘98, elf maande nadat ons ingetrek het, roep Katjie my weer vir my kos. Die vorige dag was dit ‘n bergpatrys, byna groter as sy, wat ek versigtig by haar gevat het en wat baie bly was om weg te vlieg.

Ek sien van die boonste vloer af dat die vreemde ‘muis’ besonder goudkleurig en blink is. Ek draf trap af en tel die wriemelrige ooglose ding versigtig op, omdat ek al as kind, selfs voorskools, ‘n hele paar tetanus of klem-in-die-kaak inspuitings moes kry van rotte en muise wat my gebyt het terwyl ek hulle net van katte wou red.


Drie uitstaande kenmerke van die kruipmol: Sterk voorpoot grounaels; klein agterste stootvoetjies; geen oë nie, sodat sand nie pla nie

Omdat hy reeds seergekry het, gee ek hom vir haar terug en klim weer boontoe om na te slaan watter ding dit is. Ek besit “Die Soogdiere van die Suider-Afrikaanse Substreek” van Reay HJ Smithers, uitgegee deur die Universiteit van Pretoria, 1983, met ongelooflike kleur illustrasies deur Clare Abbott, so groot soos ‘n familiebybel.

Op bladsy 81 kry ek die molle. Wraggieswaar, daardie boonste links, kleinste goudkleurigste molletjie! Dis al die tyd hy! Weeg maar 21 gram en pas gerieflik in ‘n handpalm.

Ek lees: Een dooie een by Numbi-hek, Krugerwildtuin en een lewendige een in Die Wilgers, Pretoria! Dis ál! Nee!! Storm die trappe af. Net een “oogplek” en ‘n halwe bokaak met een voortand is oor. Katjie het die res opgevreet en ingesluk.

Oorblyfseltjies word in plastiek toegedraai en in die vrieskas weggesteek . . . heel agter, onder alles. Paulette en die seuns is reeds met vakansie; ek ry môre. Sal met terugkeer opvolg.

Drie of meer maande later vra die toonbankdame by die bank of ek ‘n boer is, want ek lyk bruingebrand soos iemand wat heeldag buite werk. Haar man is ‘n bleeksiel wat heeldag deur ‘n mikroskoop loer. Hy bestudeer molle.

Totaal en al vergeet. Ry spesiaal, gaan haal die gevriesde klipharde stuk ys met die toegedraaide stukkie bokaak binne-in, en oorhandig dit net so vir haar.

Konsternasie! Professor Bennitt bel my twee dae later. Waar kry ek dit? Wil niks verder sê nie en beland opgewonde, kort daarna by my plankhuis. Ek gaan wys hom waar ek die “barste en lang uitgestulpte krake” oral in die grond in die berg kry. Daar is báie.


Juliana se goue kruipmol is die kleintjie links bo
Foto: “Die Soogdiere van die Suider-Afrikaanse Substreek”, Reay HJ Smithers

Dié kruipmolle stoot nie hopies nie. Hulle kruip net onder die oppervlak en hulle rug laat die grond oopbars, byna soos ‘n boomwortel wat groei.

Die volgende twee dorpsaansoeke waarmee ons besig was, sneuwel net daar. Selfs nadat meer as R480 000 aan omgewingsimpakstudies spandeer is. Rooidata! My eie makgemaakte Katjie het my en ander deur altwee voete geskiet.

Intussen het ek al meer as vyf van dié kruipmolle in my hand gehad. My seuns en ek het 20 ha van die berg tot die fynste detail laat ondersoek en al die kruipmolblyplekke aangeteken.

Hulle is uiters omgewingselektief. Die kolle waar hulle voorkom is baie duidelik uitkenbaar: Daardie plat, gelyk, gruissanderige dele waar normale mense sou wou bou of tuinmaak.

Kyk mooi, voor jy ‘n pad maak óf bou, vir hulle boer- en blyplekke.

 

© 2018 Die/The Bronberger