Twee rye sleepsels PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 20 November 2018 14:57
Untitled Document

Alkohol, sê Gert Mossie, is heel dikwels die probleem. Behalwe natuurlik as jy ‘n ou is wat medisyne maak. Dan is alkohol heel moontlik die oplossing. En net anderdag hoor hy toevallig ‘n ou op televisie verkondig dat alkohol ook die oplossing vir tuinslakke is.

Beweer die ou toe dat slakke vrek oor bier – figuurlik daaroor vrek en letterlik ook, sê Gert. Om van vernietigende slakke op ‘n ‘natuurlike’ manier ontslae te raak, moet ‘n mens bier in ‘n houer gooi, dit dan in ‘n gat in die grond sit en siedaar! Die tuinslakke sal hulle snoete lugwaarts druk om die verleidende geur van die goue bruisdrankie in te adem en dan oop-en-toe uit alle uithoeke van jou tuin vir ‘n suipsessie aangehardloop kom.

By die kuiergat aangekom vergryp die tuinslakke hulle aan die gratis bier, val kop eerste in die bak en kan dan glad nie weer uitkom nie, weet die ou op die televisie te vertel. Sterf glo ‘n heerlike dood, sê Gert Mossie.

Hy was skoon opgewonde oor dié ‘natuurlike’ raad. Die vrou neul hoeka al maande aan hom om iets aan die slakbesmetting in ‘haar’ tuin te doen, sê Gert.

Vir hom was dit glad nie natuurlik om twee blikkies van Saterdag se braaivleisbier in ‘n leë roomysbak uit te stort nie. Wel, maak dit twee blikkies, minus ‘n paar slukke ter wille van gehaltetoetsing, sê Gert.

Die tuiningenieur het die bak in ‘n bedding begrawe en grootoog van verstomming toegekyk hoe sy werkgewer die vars, skuimende biere daarin uitmors. “Moenie dat ek jou hier vang lê met ‘n strooitjie in die mond nie,” waarsku Gert.

Hy stuur die tuiningenieur agtertoe om bossies te loop trek en hy gaan wag binne, want hy wil nou nie dat iemand in die pad staan van die slakke-aantog nie, sê Gert. Hy wag so ‘n uur en toe gaan kyk hy: Niks.

Al wat verander het, is dat daardie bier nou heeltemal plat is. Hy wonder so terloops of ‘n slak ‘n plat bier sal kan inkry. Gedagtig aan die spoed waarteen selfs ‘n haastige, dors slak beweeg, besluit hy om nog te wag.

Drie ure later sluip hy weer om die hoek tot by die bedding waar die bierbak begrawe is. Behalwe vir ‘n brommer of twee, wat blykbaar die verslane, verouderde bier heerlik vind, is daar geen lewe en geen dooie slak in sig nie, sê Gert.

Hy dink hy het iewers gehoor dat slakke, soos dit ‘n boef betaam, die donkernag verkies om hulle strooptogte uit te voer. Gert besluit om dit kans te gee en vroeg die volgende oggend loop kyk hy weer: Niks. Behalwe vir nog ‘n versameling biervlieë en ‘n paar beskonke motte.

Teen daardie aand besluit hy dat die ou op die kassie twak gepraat het, want hy glo nie die slakbrigade sou toe nog op pad na hulle biertuin toe wees nie en hy is erg afgehaal oor die skreiende vermorsing.

Maar, sê Gert, by nadere ondersoek sien hy oral slaksleepsels wat na die bierbak toe en weer weg beweeg. En hy weet watter spore gaan bier toe en watter gaan weg, want ‘n dronk slak seil sweerlik twee rye sleepsels.
Met erkenning aan wyle Leoni Kotze

 

© 2018 Die/The Bronberger