Ou bloekombos het die tonge los PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 20 November 2018 14:55
Untitled Document

Inwoners van Cullinan wonder hoekom die bloekombos by die ingang van die dorp ná al die jare uitgekap word. Daar is diegene wat hewig teen die afkappery is en emosionele vertoë vir die bos se behoud op openbare media rig, terwyl ander die wet aanhaal wat sê dat uitheemse indringers uitgeroei moet word.

Marja Brunninger vra hoekom Cullinan-inwoners dit toelaat dat die bos oorkant Zonderwater Gevangenissentrum afgekap word. Sy sê dat Cullinan bekend is vir dié bome wat baie dekades gelede aangeplant is om stutpale vir die diamantmyn te voorsien.


Die bloekombos met Africa Tanks in die voorgrond

Volgens Marja is dit nie waar dat dié bome so baie water absorbeer nie. Sy sê dat die water in elk geval besoedel is en nie geskik is vir menslike gebruik nie.

Volgens Toni De Lange van die dorp se gemeenskapsveiligheidsgroep is dit nou al ‘n hele paar jare ‘n direktief van Departement Bosbou dat uitheemse indringers uitgeroei moet word. Sy noem dat niks onder bloekombome groei nie, oor die suurgehalte van die blare, en dat ons nie koalabeertjies het om die blare te vreet nie.


Die bloekombos word afgekap

Toni sê dat diegene wat kla ‘n afspraak met die grondeienaars moet maak en hulle moet vra om inheemse bome daar te plant. Sy sê dat mense moet aanbied om inheemse bome vir aanplanting te skenk.

Kobus Theron van Africa Tanks het bevestig dat dié maatskappy die grond waarop die plantasie gestaan het, besit. Hulle het ‘n kontrakteur aangestel om die bome af te kap en weg te ry in lyn met omgewingswetgewing.


Motoriste wat verby ry laai soveel pale op as wat binne-in hulle motors kan pas

Kobus sê dat die bome ook ’n groot brandgevaar vir hulle fabriek ingehou het. Hy sê dat die nuwe fabriek, in teenstelling met die vorige ou staalfabriek, geen impak op die omgewing het nie.

Intussen word die pale, wat op hope gereed lê om vervoer te word, oor naweke deur verbygaande motoriste opgelaai.

 

© 2018 Die/The Bronberger