Mooimeisie is nie ‘n meitjie nie PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 20 November 2018 14:41
Untitled Document

Dit is koekoek-tyd in ons kontrei en alhoewel dié voëls se roepe duidelik herkenbaar is, is dit nie altyd maklik om hulle uit mekaar te ken nie – veral nie as jy ‘n wyfie raakloop nie.

Die diederikie, meitjie en mooimeisie staan as groen koekoeke of glanskoekoeke bekend. Hulle is redelik algemene somerstandvoëls en die diederikie en meitjie lyk so baie na mekaar dat daar heelwat verwarring oor die twee kan bestaan as ‘n mens hulle nie hoor roep nie. Hulle oogkleur is die belangrikste verskil tussen die twee – dit is donker by die meitjie en rooi met ‘n rooi oogring by die diederikie.


Die Diederikie mannetjie
Foto: Wikipedia

Die diederikie wyfie
Foto: Gerrie van Vuuren

Diederikie
Die diederikie, Chrysococcyx caprius, is 17 tot 20 cm lank en weeg 22 tot 42 gram. Die mannetjie is blinkgroen met kenmerkende vlerkvlekke, rooi oë en groen sye met breë dwarsstrepe. Volwasse voëls het ’n groen kaakstreep en wit wenkbroue wat tot voor die oog strek.

Die wyfie is valer, met strepe tot op die bors en ’n dofgelerige keel. Sy kan maklik met die meitjie-wyfie verwar word, maar sy het duideliker (alhoewel minder uitgebreide) dwarsstrepe aan die sye en wit kolle op die voorvlerke.

Jong voëls het rooi snawels en kom in groen en rooibruin morfe voor.


Die meitjie mannetjie
Foto: Wikipedia

Die meitjie wyfie
Foto: Wikipedia

Meitjie
Die meitjie, Chrysococcyx klaas, is 16 tot 18 cm lank en 24 tot 34 gram groot. In Engels staan die voël as die Klaas's cuckoo bekend.

Mannetjies het glansgroen boonste vere en wit ondervere met baie min merke op. Wyfies het ‘n brons-bruin lyf, groenerige dekvere op die vlerke en ’n onduidelik gestreepte wit onderkant.

In vlug gesien is die mannetjie grootliks wit met donker primêre vere en wyfies lyk amper bruin. Mannetjies en wyfies het altwee ‘n klein wit post-okulêre kol.


Die mooimeisie mannetjie
Foto: Wikipedia

Die mooimeisie wyfie
Foto: Wikipedia

Mooimeisie
Die mooimeisie, Chrysococcyx cupreus, is 21 tot 23 cm lank en weeg ongeveer 35 gram. Dié voëls het ‘n kort, dun snawel en oranje-bruin oë. Die mannetjies het ‘n metaalagtige groen rug en kop en geel bors- en buikvere. Hulle stertvere het wit punte.

Wyfies lyk meestal bruin van bo af met ligte groen strepe op die rug. Die bors en buikvere is wit met groen strepe.

Die mooimeisie roep ‘n helder geluid wat klink soos “Hallo Ju-dy”. Die diederikie se roep is ‘n klaende ‘diee-diee-diee-diederik’ en die meitjie se roep ‘n treurige ‘mei-tjie’ wat vyf of ses keer herhaal word.

Broeigashere
Diederikies parasiteer gewoonlik op die rooivink, swartkeel-geelvink, Kaapse wewer, rooikop-wewer en mossie. Die meitjie parasiteer op die bosbontrokkie, paradys- en withals-vlieëvangers, swart- en Marico-suikerbekkie, groot rooibors-suikerbekkie, bandkeel-kleinjantjie, stompstertjie, swartkeel-geelvink en rooikop-wewers.

Die mooimeisie gebruik grootliks die groenrugkwêkwêvoëls as broeigasheer, maar daar is al gesien dat selfs sneeuballetjies, tiptolle, suikerbekkies, paradys-vlieëvangers en tinktinkies, sowel as baie spesies vinke en wewers, jong mooimeisies voer.

 

© 2018 Die/The Bronberger