Dié kluisenaars migreer soms PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 20 November 2018 14:40
Untitled Document

Die reënseisoen is op ons en met die klammer toestande loop duisendpote die wêreld vol en moet gereeld uit huise gehaal word, waar hulle gewoonlik reguit op pad is badkamer toe. Of so lyk dit vir ons.
Die kenners sê dat duisendpote wel soms doelgerig op soek is na nuwe houplekke, maar dat hoopvolle wyfies en mannetjies in dié tyd maar meestal romanties ronddwaal. Ná paring gaan elkeen weer haar of sy eie kluisenaarsgang.

Tog is daar tye wat dié kluisenaars almal byeenkom om te migreer. Dit kan glo enige tyd van die jaar gebeur as daar te veel reën was, ’n droogte is of ‘n gebrek aan kos. Derduisende duisendpote kruip blindelings in ‘n rigting voort. Hulle klim om een of ander rede teen mure uit en as hulle ‘n sekere hoogte bereik, stop hulle net daar en wag om dood te gaan.


Twee kleibolletjies met eiers op iemand se handpalm
Foto: Anka Eichhof

Naam
Duisendpote staan ook as shongololo’s bekend. Dit kom van die Xhosa en Zoeloe-woord wat ‘om op te rol’ beteken. Daar lê ‘n groot onwaarheid in die duisendpoot se Afrikaanse naam opgesluit – hy het nie naastenby ‘n duisend pote nie, soos die honderdpoot, wat ook ‘oorkruiper’ genoem word, glad nie ‘n honderd pote het nie.

Duisendpote, wat in die klas Diplopoda val, het twee pare pote per rompsegment. Honderdpote, in die klas Chilopoda, het slegs een paar aan elke segment.

Terloops, honderd- en duisendpote is nie wurms nie. Hulle is glad nie eers insekte nie. Boonop het die meeste soorte duisendpote geen gehoor nie en sien hulle baie sleg, of is hulle blind en oogloos. Die kenners sê dat ons nog nie die sintuie waarmee hulle veranderings in vogtigheid en temperatuur optel, verstaan nie.


Die duisendpoot het twee pare pote per rompsegment
Foto: Jacqueline Fouche

Chemies
Daar word gesê dat wanneer jy ’n duisendpoot in ’n toe bottel saam met ander insekte sit, die ander insekte almal sal vrek. Die meeste duisendpote het ‘n klein gaatjie naby elke rompsegment se agterrand waardeur hy chemikalieë, soos waterstofsianied, hidrosiaansuur, organiese sure en fenol, afskei.

As jy ‘n duisendpoot hanteer, skei hy dié chemikalieë af wat veroorsaak dat ‘n mens se vel bruin verkleur of ’n vel-irritasie en blasies kan veroorsaak.

Duisendpote is van die oudste landdiersoorte op aarde. Hulle is omtrent al 435 miljoen jaar aan die gang en die grootste duisendpoot wat ooit gelewe het, was so twee meter lank.

Daar is omtrent 8 000 soorte duisendpote wêreldwyd. Die meeste van hulle is donkerbruin of swart, maar ‘n paar Suid-Afrikaanse soorte is helder gekleur. Omtrent almal van hulle rol in ‘n spiraal op as hulle skrik. Die harde dop is dan aan die buitekant en die sagter dele en pote aan die binnekant.

Duisendpote vreet verrotte blare, blarepuin, plantweefsels en verrotte, klam hout wat hulle met getande kake fynkou en sal soms ook vars plante vreet. Hulle is gewoonlik op pad badkamer toe in huise omdat hulle vogtige, klam plekke verkies om te skuil. In die natuur kruip hulle weg van die sonlig tussen los stukke boombas of onder stompe, klippe en blare.


Met migrasie klim duisendpote mure uit
Foto: Boland Pest

Nes
Soms sal ‘n mens ‘n wyfie opgekrul om ‘n snaakse koepelvormige struktuur sien. Dit kan as haar ‘nes’ beskryf word. Sy lê honderde eiertjies, wat elk omtrent so groot soos ‘n speldekop is.

Twee eiertjies word op ‘n slag in ‘n klein ‘bakkie’ gelê. Die wyfie maak dié bakkies van klam grond of klei, wat sy eers vreet en daarna uitskei. Ná die twee eiertjies gelê is, word die bakkie se kante hoër gemaak en nog klei bygevoeg, voor sy nog twee eiertjies lê. Ná ‘n paar honderd eiertjies, is die nessie min of meer koepelvormig en daar is ‘n gaatjie bo in waardeur die lug inkom.

Party Suid-Afrikaanse soorte maak nie dié kleibakkies nie, maar hol verrotte hout uit om hulle eiers in te lê. Sommige soorte bedek hulle nessies met blare en ander krul as beskerming rondom die nessie.

Wanneer die kleintjies uit die eiers kom lyk hulle glad nie soos duisendpote nie, maar eerder soos ‘n klein soort insek. Hulle het, soos insekte, dan net drie pare pootjies. Ná ‘n ruk begin die kleintjies vervel en met elke vervelling kry hulle meer rompsegmente en nog twee stelle pote met elke segment.

Dit kan twee tot vyf jaar neem om volwasse te word, alhoewel volwassenes steeds vervel. Duisendpote kan vyf tot 10 jaar oud word.


Opgekrul met die harde dop na buite
Foto: Boland Pest

 

© 2018 Die/The Bronberger