Waar sit dié eek se horing PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 20 November 2018 14:40
Untitled Document

Al ooit gewonder waar ‘n eekhoring se horing dan nou sit? Die naam ‘eekhoring’ het niks met horings uit te waai nie. Dit kom van die Hollandse ‘eekhoorn’ vanuit die middel-Hollandse woord ‘ekorn’, wat afgelei is van die Ou-Nederlandse ‘ekorno’ van die Proto-Germaniese ‘aikwernô’.

Dié diertjies, wat bekend is daarvoor dat hulle neute vir die winter opgaar, is na hulle gunsteling kos vernoem. Tog is eekhorings omnivore en sal insekte, eiers, klein voëltjies en soogdiertjies en selfs paddas vreet as daar niks anders beskikbaar is nie. Hulle kan nie sellulose verteer nie en maak staat op kosse wat ryk is in proteïen, koolhidrate en vet.

Onder normale omstandighede vreet hulle sade, swamme, dennebolle, aalwynblare, blaarknoppies, bessies en vrugte en word baie kere as ‘n pes beskou omdat hulle aan alles knibbel, selfs oneetbare voorwerpe. Eekhorings doen dit om hulle tande skerp te hou en af te slyt – baie soorte knaagdiere se tande hou aan groei.

Interessant genoeg kan eekhoring nie eintlik rou grondbone verteer nie. Dit bevat ‘n tripsien inhibeerder wat die absorpsie van proteïen in die dermkanaal verhoed. Hulle kan wel geroosterde grondbone geniet, maar as hulle dieet tot sade beperk word, kry hulle verskeie tekorte wat tot ‘n metaboliese beensiekte kan lei.


‘n Boomeekhoring
Foto: Wikimedia

Eekhorings is knaagdiere in die familie, Sciuridae – van die Grieks ‘skia’ wat ‘skaduwee’ beteken en ‘oura’ wat ‘stert’ beteken, so hulle naam is basies ‘die stert wat ’n skaduwee werp’. Hulle word dwarsoor die wêreld gevind, behalwe in Australië. Daar is 250 spesies wêreldwyd en ses spesies is inheems in Suidelike-Afrika.

Die boomeekhoring of geelpooteekhorinkie, Paraxerus cepapi, is die wydste versprei van ons streek se boomeekhorings. Hy is 35 cm lank, wat ‘n stert van 16 cm insluit, en hy weeg 100–260 gram.

Sy grootte en kleur kan baie wissel. Diere van die westelike gebiede is gewoonlik gryser en dié van die oostelike dele meer geelbruin. Die borskant kan wissel van wit tot vaalbruin en sy lyf lyk in geheel spikkelgrys.

Daar is gewoonlik so vyf eekhorings wat in ‘n groep saambly. Groeplede merk mekaar en voorwerpe in hulle gebied, wat ongeveer vier hektaar groot is, met anale klierafskeidings. Hulle roep aanhoudend na mekaar en uiter skel snaterroepe terwyl die stert vinnig geruk word.


Boomeekhorings slaap in boomholtes
Foto: Arno Meintjes

Boomeekhorings rus snags in boomholtes, wat hulle ook as nes gebruik waar hulle kleintjies grootmaak. Ná ‘n draagtyd van ongeveer 55 dae word een tot drie kleintjies in so ‘n hol boomstam, wat met blare uitgevoer is, gebore. Die kleintjies weeg 10 gram met geboorte.

Boomeekhorings is ywerige versorgers en ‘n wyfie sal haar kleintjie met die voorpote vasdruk om hom skoon te lek. Die kleintjies bereik volwassenheid op ses tot nege-maande ouderdom en word dan deur die broeipaar weggejaag. Dié eekhorings kan vyf tot nege jaar oud word in gevangeskap.

 

© 2018 Die/The Bronberger