'n Varkensboud op Sondag by Olives PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 18 May 2009 20:36
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberggebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Langs Lynnwoodweg-verlenging sien jy deesdae oral plakkate wat jou weet te vertel dat Olives Tea Garden nou oop is. En ander vertel jou weer dat jy op Sondag ’n buffet aldaar kan loop eet.

As jy van die dorp se kant af aankom, is Olives aan jou regterkant net voor jy die brug oor die Zwavelpoortspruit sou oorsteek. Dis die plek waaroor almal gewonder het toe dit destyds in aanbou was: Is dit ’n kerk, of ’n huis, of ’n kasteel of wat? Dis toe ’n ‘venue’ wat hulle Riverside Castle roep en nou ook ’n teetuin-restaurant.

En dis nogal ’n imposante plek. Netjies met sierbaksteen en swaarhout aanmekaargesit. Metgesel meen hulle kleedkamers is van die beste - skoon en mooi. Kleedkamers is baie belangrik vir Metgesel. Dit was so skuins voor eenuur toe ons op ’n amper-koue Sondag in Mei die klippiesbult afstap om Olives en hulle buffet te gaan beproef. Jy kan binne of buite sit, en oor dit net amper-koud is, sit ons buite.

As jy nie ’n kind of ’n dwergie is nie, vermy die tafels met die parkbankies. Die bankies sit hoog en die tafels laag en dit kan vir ’n ongemaklike kuier en eet sorg. Die ruglose houtbankies is beter – al kan jy nie terugsit nie, kan jy darem die tafel met jou elmboog bykom. Binne kan jy natuurlik die gerief van ’n stoel geniet.

Die atmosfeer onder die witstinkhoute en vaderlandswilg is landelik en rustig en die uitsig oor Basie en Max Steenkamp se hoewe en die berg is mooi.

Ek is bly om op die swartbord te sien daar word sop as voorgereg bedien. Was hoeka lankal lus vir ’n bord lekker, warm wintersop. Ons boude het ook skaars plank gevat of die kelner, Freddie, vra of hy vir ons sop kan bring.

Ons vra of ons darem eers iets vloeibaars en minder vullend kan bestel en vriendelike Freddie is soos ’n warrelwind daar weg om ons wyn te gaan haal. Toe hy die rooiwyn neersit wil hy weet of hy nou die sop kan bring. Freddie is in ’n japtrap terug met die sop. Dis ’n groentesop. Vir baie sal hy te veel met die sout en swartpeper gelaai wees, maar dit geval ons. Dis ’n baie lekker bord wintersop, maar hy kon warmer gewees het.

Jy kry nie ’n broodjie by nie, behalwe seker as jy vra, maar dit geval ons want die hoofgereg van gebraaide varkensboud en/of geroerbraaide hoender met groente en ’n Jan Ellis-poeding daarna, lê nog voor.

Intussen het Freddie ons laat proe aan tuisgebottelde olywe wat jy by Olives kan aankoop. Ek koop ’n botteltjie aan en sommer ’n pakkie droëperskes ook. Die perskes is terloops van die beste wat ek nog geproe het.

Ons sit nog so behaaglik aan ons wyntjies en teug ná die heerlike soppie, toe Freddie ons, baie ordentlik, kom vra of ons nog gaan eet. En as ons wil, wil ons nie maar gaan opskep nie?

Ek en Metgesel help mekaar met die oplig van deksels en inskep. Sy skep die roerhoender en ek die vark. Die rys is lekker los en plomp, maar nerens ’n sousie in sig daarvoor nie. Die groente is kaneelpampoen en ’n blomkoolmengsel met witsous. Dit is duidelik dat die sjef sy storie ken. Ek vra ’n mosterd vir my varkvleis en Freddie bring. Alles is smaaklik, warm genoeg en waarde vir die R85 per kop.

Freddie kom haal die borde en teen dié tyd vind ek dit nie vreemd toe hy tegelykertyd vra dat ons moet gaan skep as ons nog wil poeding hê nie. My selfoon sê dit is knap ná tweeuur.

Die bak met Jan Ellis-poeding en beker met dik vla is al wat nog op die skeptafel staan. Die poeding is soos hy moet wees, maar weer net effens te koud na my smaak. Jy kan lekker eet by Olives, maar as jy rustig wil eet en kuier stel ek voor dat jy sommer vroeg daar inval.

Hulle vra dat jy moet bespreek vir die Sondag-buffet. Bel hulle by 012-809-1577.

 

© 2019 Die/The Bronberger