Dié Witties het woema PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 20 November 2018 14:36
Untitled Document

Laerskool Witpoort se Mach 4 span was die algehele wenners in die streekskompetisie van die Jaguar Primêre Skool F1 kompetisie op 27 Oktober by Sci-Bono in Johannesburg.

Die span, bestaande uit Benita Schinkel, Christo Bester, Lalique van der Vyver en Zed Lake, het 31 ander spanne op dié dag uitgestof. Hulle het ook drie uit die vyf kategorieë gewen.

Die hoofborg, Sangari SA, ondersteun deur Jaguar Motors en die Departement van Onderwys, verstaan die belangrikheid om jong mense te motiveer om die vaardighede aan te leer wat groot maatskappye nodig het om wenmotors te ontwerp.


Van links na regs: Benita Schinkel, Christo Bester, Zed Lake en Lalique van der Vyver met Pieter du Plessis van Sangari SA agter

Die uitdunwedrenne was die hoogtepunt van die dag en die 20 meter lange baan was omring deur kinders en toeskouers.

Dié F1-kompetisie sluit nie net die ontwerp-proses en reisiesjaag in nie, maar ook die bemarking en werf van borge. Die span werk al sedert Maart aan die projek en is op 4 Augustus as wenners van die distrikskompetisie aangekondig.

Zanele Gulston, die Departement van Onderwys se wetenskapfasiliteerder vir die Gauteng Noord-distrik het spesiaal deurgery om die spanne op die dag te ondersteun. Sy wens Laerskool Witpoort se Mach 4 span alle sterkte toe met die provinsiale kompetisie op 1 Desember.

 

© 2018 Die/The Bronberger