‘Kruppel’ kind gryp tweede kans PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 20 November 2018 14:35
Untitled Document

Bianca Fourie, die 16-jarige meisie wie se lewe vroeër vanjaar deur ‘n hoë-risiko rugoperasie gered is, is terug by die skool.


Bianca Fourie en haar tannie, Annetjie Opperman
Foto’s: Verskaf

In Junie het ons berig dat Bianca sou sterf as sy nie die operasie, wat onbekostigbaar duur is sonder ’n mediese fonds, gekry het nie. Sy het gely aan skoliose (ruggraatverkromming) en kon nie meer behoorlik asem kry nie, omdat haar ruggraat al 130 grade gebuig was. Dit het beteken dat daar nie plek in haar borskas was vir haar longe om behoorlik te werk nie.

Ná ’n fondsinsamelingsproses waaraan lesers van Die Bronberger deelgeneem het, is die operasie teen ‘n fraksie van die koste by Life Faerie Glen hospitaal gedoen.


Bianca voor die operasie wat haar lewe gered het

Bianca is intussen terug na Hoërskool Oosterland wat haar gehelp het om meer as vier maande se skoolwerk in te haal. Sy het met haar eksamens begin en het kleure verwerf vir haar deelname in die skoolorkes by die SA Kampioenskappe.

Bianca sê sy besef goed dat sy amper dood was. Wat min mense egter weet is dat sy voor die operasie soos ‘n uitgeworpene gevoel het. Dit was nooit maklik om iewers heen te gaan nie, omdat mense na haar gestaar het en vir die ‘kruppel’ kind gelag het.


Bianca het kleure verwerf vir haar deelname in die skoolorkes by die SA Kampioenskappe

“Dit het mannemoed gevat om elke dag op te staan en te glo dat ek sterk genoeg is om deur alles te kom,” sê Bianca. Haar advies aan ander wat deur moeilike tye gaan is om nooit op te gee nie en nie toe te laat dat ander mense jou afbreek nie.

 

© 2018 Die/The Bronberger