Mishandeling verwoes lewens PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 20 November 2018 14:31
Untitled Document

Die eerste gedagte wat die woord ‘mishandeling’ by ‘n mens laat opkom is dié van familiegeweld waar vroue en kinders die slagoffers is. Dit is dalk die mees algemene vorm van mishandeling, maar by verre nie die enigste vorm van die misbruik van mag nie.

In die huis kan mishandeling in kriminele geweld ontaard, maar alledaagse mishandeling vind op alle vlakke plaas, ook in die skool en die werkplek. Mishandeling in skole sluit boelie in, wat al so algemeen geword het dat dit gesien word as iets wat geen kind sal vryspring nie.

Mishandeling vind ook plaas in ouetehuise, verpleegtehuise en selfs hospitale. Wat is die onderliggende aspek? Dat sommiges weerloos is en dat ander hulle posisie van mag op negatiewe maniere gebruik.

Onder die mees kwesbare in ons samelewing tel ouer mense, kinders en vroue. Fisiese mishandeling praat hier die hardste, sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng Oos.

Wat kan ‘n ma doen as haar man haar en haar kinders fisies aanrand? Maatskaplike werkers is al dekades lank die eerste aanklopplek vir sulke vroue, veral omdat hulle gereeld weggewys word deur die polisie, sê Henda.

Sy sê dat gesinsgeweld ‘n groeiende tendens toon. Oor die afgelope vyf jaar het die syfers gestyg en dit is opmerklik dat mishandeling nie kieskeurig is nie; dit kom in alle etniese en ekonomiese groepe, geslagte en verhoudings voor.

 “Ons het ‘n 22% styging in die aangemelde gevalle van vrouemishandeling gesien, 5% in kindergevalle en 9% in gevalle van seksuele mishandeling van kinders. Meeste van dié gevalle gaan met dwelm- of alkohol-gebruik gepaard. Ons het ‘n 27% styging in die getal dwelmafhanklikes in die afgelope jaar ervaar,” sê Henda.

“Ons weet egter dat die meeste gevalle nie aangemeld word nie. Familielede of slagoffers is dalk te bang om dit by die polisie aan te meld. Hier is die maatskaplike werk-netwerk wat in amper alle gemeenskappe teenwoordig is, die regte plek om te vra vir hulp, ondersteuning, trauma-berading en ander fisiese behoeftes wat deur die situasie veroorsaak word.” 

Henda sê dat die langtermyn gevolge van mishandeling ‘n gemeenskap is wat deur vrees beheer word: Vrees dat iemand jou sal afluister, vrees vir mishandeling al het jy niks verkeerd gedoen nie, vrees dat die polisie jou nie sal help nie.

“Ons sal sekerlik nie in ons leeftyd mishandeling kan uitroei nie, maar ons is vasbeslote om dit te hanteer. Om mishandelaars se gedrag te verander sal die enigste manier wees waarop die situasie verander kan word,” sê sy.

Vir meer inligting, bel Henda van der Merwe, by 072-801-0092.

 

© 2018 Die/The Bronberger