‘Derduisende’ trek saam op Rhenosterfontein PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 20 November 2018 14:27
Untitled Document

Die verwagte vyf miljoen mense wat glo Christelike spreker, Angus Buchan, se gebedsaamtrek op Rhenosterfontein sou bywoon, het na ‘derduisende’ afgeskaal.

Hardus Zevenster, woordvoerder van die saamtrek, sê die skatting is dat daar net-net meer as ‘n miljoen mense by dié ‘It’s Time’ 2018-gebedsbyeenkoms op 27 Oktober by die Rhino Park-vliegveld was. By die vorige twee saamtrekke in Bloemfontein en Kaapstad was daar meer as twee miljoen mense, sê hy.

Omvattende verkeersknope is verwag en inwoners van die Boschkop-gebied, Rayton en Cullinan is vooraf gevra om nie daardie dag werk toe te gaan nie en om hulle inkopies en brandstof-aankope ‘n paar dae vooraf te doen.


Rhino Park se veld is afgebrand in voorbereiding vir die saamtrek
Foto: It’s Time

Dit was die laaste naweek van die maand en talle mense wat daardie dag ‘n trek-vragmotor gereël het, moes dit kanselleer. Verskeie geleenthede wat maande vooraf beplan is, moes ook gekanselleer word, soos Wet Nose Dierereddingsentrum se Doctober-dag.

Inwoners is vooraf gewaarsku dat sekere paaie in die gebied gesluit sal word en in eenrigtings verander sal word. Hulle is gewaarsku dat die swaar verkeer sou beteken dat dit moeilik sou wees om toegang te kry na Rayton en ander gebiede via die hoofroetes.


Byeenkomsgangers voor die groot verhoog

Paaie wat deur die organiseerders as toegangsroetes na die byeenkoms geïdentifiseer is, was: Die Cullinan/Zambezi pad via die Nooitgedacht-grondpad na Rayton; die R515 vanaf Rayton na die Bapsfontein/Bronkhorstspruitpad; die Ou Bronkhorstspruitpad vanaf Pretoria na die Jan Ellis-kruising; en Boschkoppad vanaf Lynnwoodweg-verlenging en die Rhenosterfontein-grondpad.

Verkeersbeamptes was oral op dié roetes bedrywig. Beamptes by die vierrigting-kruising by Jan Ellis Afslaers het ‘n luukse voertuig agterna gesit wat in die rigting van Bronkhorstspruit gejaag het. Volgens ooggetuies het hy voor Wet Nose teen ‘n Golf gebots. Een van die insittendes is op die toneel dood en ‘n ander is met ‘n helikopter hospitaal toe gevat. Ooggetuies sê dat die bestuurder wat van die Metro-polisie weggejaag het ongedeerd is en op die toneel in hegtenis geneem is.


Mense het kilometers ver vanaf die parkeergrond gestap
Foto: Stefan Steyn

Lede van die gebied se gemeenskapspolisiëringsforums berig dat die verkeer oor die algemeen goed gevloei het. Om omvattende verkeersknope te verhoed is kampering aangemoedig en gratis van 25 tot 29 Oktober in die omgewing beskikbaar gestel.

Mense wat die saamtrek bygewoon het moes op ‘n massiewe parkeerterrein, wat glo so groot soos 2 800 rugbyvelde was, parkeer en ‘n paar kilometer na die vliegveld toe loop.

Sowat 2 000 hektaar is vir die byeenkoms voorberei en 65 km paaie is op die terrein gebou. Die veld is langer as ‘n maand voor die samekoms afgebrand. Organiseerders het dit ‘skoongebrand’ genoem – glo om die plek voor te berei sodat groen gras kon uitkom waar die mense moes sit, parkeer en kamp.

Angus Buchan kniel op die verhoog
Foto: Verskaf

Die skare vanaf die verhoog gesien
Foto: TBN in Africa

Die platform wat op die terrein opgerig is het bestaan uit 70 ton staal en was vier verdiepings hoog. Dié werk is alles deur vrywilligers teen geen vergoeding gedoen met produkte wat deur borge geskenk is.
Reuseluidsprekers is oor die terrein versprei en massiewe skerms is opgerig. Daar was ‘n duidelike polisieteenwoordigheid en mediese personeel het gereed gestaan vir noodgevalle.

Angus het gesê dat dit een van die laaste geleenthede voor die verkiesing was waar Suid-Afrikaners saam kon bid vir vrede, stabiliteit en die land se toekoms.

 

© 2018 Die/The Bronberger