Loop lig vir boewe by kruising PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 20 November 2018 14:26
Untitled Document

Woodhill-landgoed se sekuriteitsafdeling het ‘n waarskuwing uitgestuur dat gewapende rowers te voet doenig is by die kruising van Garstfonteinweg-verlenging en De Villebois Mareuil-rylaan.

Sekuriteit-beeldmateriaal wys dat dié rowers voetgangers takel, maar moontlik binnekort voertuie wat by die verkeerslig stop se ruite sal stukkend slaan om voorwerpe uit die motor te gryp. Inwoners is ook teen kapings by dié kruising gewaarsku.

Vroeër in Oktober is ‘n vrou in haar voertuig beroof in De Villebois Mareuilrylaan oorkant The Wilds-landgoed. Twee gewapende mans het haar Mini Cooper se venster met ‘n hammer stukkend geslaan, haar juwele afgeruk en ander waardevolle items uit die voertuig gesteel. Die vrou is nie beseer nie.

Die vrou wou glo by The Wilds indraai toe ‘n wit Chevrolet haar afgekeer het. ‘n Omstander wou die Chevrolet agternasit, maar het die poging laat vaar toe insittendes op hom gevuur het.


Oppas vir verkeerslig-roof

Die kenners sê dat baie gevalle waar vensters stukkend geslaan word by verkeersligte gebeur omdat die slagoffers nie bewus is van wat om hulle aangaan nie. Hulle raai mense aan om nie na selfoonboodskappe te kyk terwyl hulle vir die lig wag om groen te word nie.

Misdadigers teiken kruisings ná piek-verkeer. Hulle nader die voertuig uit ‘n mens se blinde hoek. As jy iemand sien nader kom, gebruik jou toeter om aandag te trek.

Waardevolle items moet in die kattebak toegesluit word. Misdadigers teiken diegene wat besittings op of onder die sitplek sit, veral vroue.

As jy in só ‘n voorval was moet jy na jou naaste polisiestasie toe ry. Vertel die polisie waar die insident gebeur het, hoe laat en, indien moontlik, gee ‘n beskrywing van die verdagte se kleredrag.

 

© 2018 Die/The Bronberger