Hande in die hare oor bouplanne op hoewes PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 20 November 2018 14:25
Untitled Document

Hoewebewoners sit met die hande in die hare oor nuwe verwikkelinge rondom bouplanne wat opgedateer of ingedien moet word, veral vir eiendomsoordragte. Argitek Christiaan Liebenberg praat hier oor die proses wat by die stadsraad gevolg moet word.

In die ou dae het elke munisipaliteit ‘n duidelike grens gehad en eiendomme buite daardie grens, soos plaasgedeeltes, was nie aan munisipale verordeninge onderhewig nie; net aan nasionale wetgewing.
Dié wetgewing het altyd bouplanne vir enige struktuur vereis, maar daar was geen beheerliggaam waar planne ingedien moes word vir landbougrond tussen munisipaliteite se dorpsgrense nie.

Dit het mense laat dink dat dit nie nodig is om behoorlike planne te laat optrek vir strukture op landbougrond nie Tog het wetgewing gestipuleer dat sulke strukture aan die nasionale bouregulasies moet voldoen en daar was reëls oor landbou-sonering en -titelaktes.

Deesdae val alle grond binne munisipale grense en moet deur ‘n plaaslike munisipaliteit goedgekeur word. Strukture wat gebou is voor dié nuwe wetgewing in werking getree het, kan probleme veroorsaak.

Munisipaliteite vereis ‘n kopie van planne van alle strukture hoër as een meter, maar baie sulke strukture op landbougrond is sonder planne gebou. Dit is in die grondeienaar se beste belang om ‘n ‘tydlyn’ op te stel oor wanneer strukture gebou is. Dit hoef glad nie gedetailleerd te wees nie en moet net opgedeel word in verlede, hede en toekoms.

‘Verlede’ verwys na alle strukture wat gebou is voor die nuwe munisipale grense in werking getree het. ‘Hede’ verwys na strukture waarvan planne onder normale omstandighede ingedien sou moes wees; enige huidige konstruksieprojekte; en beplande projekte. ‘Toekoms’ verwys na beplande hersonering, onderverdelings en ontwikkelings.

Wanneer enige voorlegging by die munisipaliteit gedoen moet word vir strukture op landbougrond wat voorheen buite die munisipaliteit se grense geval het, moet ’n terreinplan ingedien word.

Alle strukture hoër as een meter moet aangedui word en as ‘bestaande’ gemerk word. Basiese buitelyne is gewoonlik goed genoeg. Alles wat nie op so ‘n terreinplan aangedui word nie skuif uit die ‘hede’ kategorie uit na die ‘toekoms’ kategorie, selfs al is hulle ouer as die berge.

As ‘n huis gebou is sonder munisipale goedkeuring en die planne word eers jare later ingedien, sal die wetgewing wat geld ten tye van indiening, afgedwing word. Die munisipaliteit het geen definisie vir ‘soos gebou’ nie. Alle geboue sonder goedgekeurde planne word onder die afdeling ‘nuut’ geplaas en mag onderworpe wees aan veranderings en aanpassings om te voldoen aan huidige wetgewing.

As ‘n mens vensters as voorbeeld gebruik, werk dit so: Geboue wie se planne voor 2010 by die munisipaliteit ingedien en goedgekeur is, kan groot vensters met staalrame hê. ‘n Gebou wat voor 2010 gebou is sonder goedgekeurde planne word nou as ‘nuut’ beskou en as die planne in 2018 ingedien word, kan dit beteken dat die vensters nou toegebou moet word of oorgedoen moet word met dubbelglas.

Eienaars wat gebou het sonder om hulle projek by die beheerliggaam van die huisboubedryf te registreer, vind dit moeilik om hulle eiendom te verkoop. Die verkoop van ‘n huis sonder goedgekeurde bouplanne is amper onmoontlik.

 

© 2018 Die/The Bronberger