Gesin se tuiste in brand verwoes PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 20 November 2018 14:24
Untitled Document

Die Van der Poel-gesin van die plaas Eldersrust buite Cullinan se huis is in die vroeë oggendure van 7 November deur ’n brand verwoes. Buiten enkele kleiner meubelstukke en klerasie wat gered kon word, is hulle totale huisinhoud in die brand vernietig.

Die gesin bedryf Van der Poels Kaas en is ook bekend as handelaars van antieke meubels en ware en versamelstukke.

Die gemeenskap rondom hulle het dadelik ingespring om hulp te bied aan die mense wat alles verloor het. Skenkings van beddegoed, kookgerei, eetgerei, breekware en toiletware is by KWD Voere op Cullinan aflaai vanwaar dit na die Van der Poels geneem is. Die vroue in die gemeenskap het die eerste ruk etes voorsien tot die gesin weer tot verhaal kon kom.

André van der Poel het die plaas in 1999 gekoop en ’n werker van die vorige eienaar as veewagter in diens geneem op ’n deel van die plaas waar hy nie dikwels kon kom nie.


Die Van der Poels se huis in ligte laaie
Foto: Verskaf

Dié veewagter het ’n jaar lank vir hom gewerk, maar is aangekeer vir veediefstal en moes tronkstraf uitdien. Toe hy daarna doodsdreigemente teen André gemaak het, is ’n uitsettingsbevel in die hof verkry.

André is in 2002 in kennis gestel van ’n grondeis op sy plaas, maar die eis was nie geldig nie. In 2005 het ongeveer 300 mense op die plaas opgedaag en ‘n tent opgeslaan waar die veewagtershuis gestaan het, om ‘n “geslaagde grondeis” te vier. Die “nuwe grondeienaar” was glo die veedief. Hulle het gesê dat André se titelakte ‘n ongeldige dokument was en doodsdreigemente is gemaak. 
Die aand voor die brand uitgebreek het, het swaar reën op Cullinan geval.

Mense wat finansiële bydraes vir die Van der Poels wil maak waaruit dringend noodsaaklike items aangekoop kan word, kan dit doen by die Cullinan Boere-unie, wat die aanwending van die fondse bestuur en beheer. Rekeningnaam: Cullinan boere-unie; Nedbank Cullinan; Takkode: 162050; Rekeningnommer: 1620248778; Verwysing: VDP.

 

© 2018 Die/The Bronberger