Untitled Document
Dit is ’n ou wysheid dat jy nie
sommer ’n man op sy baadjie
moet takseer nie. Só ’n man is
oom Gertjie Niemoller van die
Boesmanland. Oom Gertjie het nie
groot boekgeleerdheid nie en nog
minder geite en fieterjasies, maar
die houtjie van die galg kan ’n paar
trieks by hom gaan leer.
Gertjie Niemoller is gebore en getoë
anderkant Pofadder in Pella se
wêreld. Dit is hy wat die plaas, Klein
Pella, tot ’n sieraad uitgebou het.
Met dadels en karakoel en met die
ontginning van minerale het oom
Gertjie op groot skaal vooruit
geboer. Dit was gou alom bekend
dat hy ’n baie vermoënde man is, al
sou jy dit nie sommer sê as jy onwys
genoeg sou wees om hom op sy
baadjie te takseer nie.
Oom Gertjie sou jy trouens selde of
ooit in ’n baadjie of in ’n langbroek
sien. Hy het kortbroek, kakiehemp
en hoed gedra. En velskoene, met
of sonder kouse. En soos hy aangetrek
het om sy take op die plaas te
doen, só het hy aangetrek vir dorptoe-
gaan, besigheid-gaan-doen of vir
gaan-kuier. Dan het hy met sy goedgebruikte
plaasbakkie gery waar hy
moes wees of wou wees.
Op veilingdae het Gertjie Niemoller
onder sy hoed opgedaag in sy kortbroek
en velskoene en soms was die
broek sommer met ’n riem of ’n das
om sy middellyf vasgeknoop om die
ding bo te hou. ’n Praktiese man,
oom Gertjie.
In sy hand het hy altyd so ’n
afgeleefde, blou Globite koffertjie
gedra. Dan het oom Gertjie sy plek
op die plankstellasie langs die veilingkraal
ingeneem en aggresief
gebie op die diere waarin hy belangstel.
As dit by betaaltyd kom, het hy
sy blou koffertjie oopgeknip en die
kontantnote uitgetel.
Nou vertel hulle dat oom Gertjie op
’n goeie dag besluit het die tyd het
aangebreek vir hom om ’n nuwe kar
te koop. Hy het raad gevra by
vriende oor wat hulle sou dink ’n
‘grênd’ kar is. Op hulle aanbeveling
sit hy toe af Kaap toe om vir hom ’n
nuwe Mercedes ‘uit die boks uit’ te
loop koop.
In sy gewone drag van kortbroek,
velskoene en kakiehempie en met
sy blou Globite koffertjie in die
hand, stap Gertjie Niemoller op ’n
gegewe dag by die grênd handelaar
van dié grênd karre in die Kaap se
vertoonlokaal in.
Oom Gertjie het ’n bietjie rondgestaan,
’n bietjie hier gekyk en daar
geloer, maar niemand het nadergekom
om hom te help nie. Toe klim
hy maar agter die stuur van een van
die blink, nuwe vuurwaens wat hom
geval in - om die gevoel van die ding
te kry. En dis glo eers toe dat ’n
gekoller-en-getaaide mannetjie
agter sy lessenaar uitskuif en haastig
naderstaan.
“Wat dink jy doen jy?” vra die mannetjie
vies. “Jy kan nie sommer hier
kom en in die karre inklim en hulle
vuil smeer nie,” raas die verkoopsknapie.
“Nee, maar dan is dit goed
so,“ sê Gertjie Niemoller van Klein
Pella en hy vat sy Globite koffertjie
en stap by die vertoonlokaal uit.
Skuins oorkant die pad van die
Mercedes-handelaar af was die
BMW-garage. Oom Gertjie kies toe
maar koers soontoe. Daar aangekom
word hy dadelik deur ’n
verkoopsman verwelkom en gevra
wat hulle vir hom kan doen. Duidelik
het dié verkoopsman die wysheid
van nie-takseer-op-die-baadjie-nie,
geken.
Daardie dag het oom Gertjie
Niemoller nie net een nie, maar
sommer twee blink, nuwe BMW’s
gekoop – kontant met note uit sy
blou Globite koffertjie uit. Die
tweede een was ’n verassing vir sy
broer.
Met die transaksie beklink, vra die
verkoopsman, wat natuurlik uit sy
vel uit is, vir oom Gertjie wat hom
laat besluit het op BMW. “Nee,” sê
die oom, “die mannetjie daar
oorkant het my soos ’n hondsdol
brak by sy winkel uit gejaag, toe
stap ek maar hier by jou in.” Hulle sê
die verkoopsman het dadelik sy kollega
oorkant die straat gebel om
met groot vermaak sout in sy selftoegediende
wonde te vryf.
|