Broer Tottie van Isie, swaer Jan en die kommunis PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 23 October 2018 09:36
Untitled Document

Angie Kleijn

Elke huis het sy kruis en elke familie het iemand aan wie hulle eintlik eerder nie verwant sou wou wees nie. Soms is dié verwantskap aangetroud en soms is dit eie bloed, maar die ongemaklikheid is veel erger as dit konstant in die kalklig is.

Só was dit met eerste minister Jan Smuts en Bram Fischer, wat destyds ‘n lid van die verbode Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party was. Die spilpunt van ons storie is ‘n man genaamd Tottie Krige, wat met die draai van die vorige eeu saam met sy gesin op ‘n kleinhoewe op Silverton, wat toe nog ver uit Pretoria was, gebly het.

Tottie was getroud met ‘n vrou wie se pa, ‘n Duitse sendeling, sy dogtertjies verskriklik afgeskeep het omdat hy nie oor die dood van sy vrou kon kom nie. Hy het glo dag en nag by haar graf gesit en huil tot hy eendag ‘n brief Duitsland toe gestuur het wat vra dat die sendinggenootskap asseblief tog vir hom ‘n nuwe vrou moet stuur.


Isie Krige in 1888
Foto: Wikipedia

Tottie
Tottie se volle name was Petrus Schabort Krige. Hy is op 13 August 1874 op Stellenbosch gebore as een van wyn- en melkboer, Jacob Daniel Krige, en sy vrou Susanna Johanna, ‘n nooi Schabort, se nege kinders. Tottie was vier jaar jonger as sy suster, Sybella Margaretha, wat van kleins af as Isie bekend gestaan het.

Volgens musiekwetenskaplike, dr Petrus Krige, se navorsing word Tottie en Isie se pa beskou as die vader van die Libertas Parva Krige familie-tak, vernoem na hulle plaas. Tottie se oupa, ook Jacob Daniel Krige, het op Bottelary geboer en is Vader Jakob genoem, omdat hy 18 kinders by twee vroue gehad het.

Tottie se suster, Isie, het Jan Smuts op Victoria Kollege, later Stellenbosch Universiteit, ontmoet toe hy 17 en sy 16 jaar oud was. Hulle het altwee in 1887 gematrikuleer. In hulle studiejare het Jan en Isie saam klas toe gestap en hy het naby haar ouerhuis loseer.

Dit het Jan tien jaar gevat om die ja-woord te vra. Hy het verder aan die Universiteit van Cambridge in Engeland gaan studeer en het eers op 30 April 1897 in die Kriges se voorkamer met Isie getrou.


Tottie Krige, sy vrou Emilie, gebore Bernsmann, by hulle vier kinders in Silverton: Jacob Daniel (1904), Pauline Emilie (1906), Susanna Johanna (Mollie) (1908) en Peter (1911)
Bron: Dr Petrus Krige in Familia 2016 nr 1

Swaer Jan
Tottie en sy swaer Jan was hegte vriende. Tottie het ook aan Stellenbosch studeer, waar hy in die eerste voetbalspan gespeel het. Hy het as landmeter gekwalifiseer. ‘n Paar jaar daarná het die Engelse Oorlog uitgebreek en Tottie het op kommando gegaan. Hy is swaar verwond op Spioenkop, maar het reggekom en het daarná saam met swaer Jan die Kaapkolonie binnegeval.

Ná die oorlog het Tottie saam met swaer Jan na die vrede-samespreking op Vereeniging gegaan en die dokument wat die Boere vir dié samesprekings voorberei het, is in Tottie se handskrif opgestel.

Tottie het na die Pretoria-distrik verhuis; hy het op die Silverton-kleinhoewe gewoon en het by die landmeter-generaal se kantore in Pretoria gewerk. Tottie is met Emilie (Emmie) Bernsmann getroud.


Die vyf seuns van Libertas Parva, agter: Leopold Jacobus en Willem Garfield. Voor: Petrus Schabort (Tottie), Roelof Gideon en Jacob Daniel
Foto: Geni

Emmie
Dit is Emmie se sendeling-pa, Peter Friedrich Bernsmann, wat so by sy vrou, Emilie, ‘n nooi Westkott, se graf getreur het. Emmie was die oudste dogter van dié Rynse sendeling vanuit Duitsland. Hy is in 1874 na die destydse Duitswes-Afrika gestuur en Emmie is op 10 Januarie 1877 op Otjimbingwe gebore.

In 1880, toe Emmie drie jaar oud was, is haar ma dood met die geboorte van Emmie se tweeling sussies. Die tweeling het oorleef, maar die sendeling kon nie na die drie dogtertjies omsien nie, ten spyte van die hulp van ‘n Herero-oppasser.

Ná twee jaar het hy die brief aan sy hoofkwartier in Berlyn geskryf en gevra dat hulle vir hom ‘n vrou moet stuur. ‘n Charlotte (Lotte) Neumann, wat hy voorheen geken het, het ingestem om die tog na diepe, donker Afrika aan te durf.


Tottie en Isie se pa, Jacob Daniel Krige
Foto: Geni

Sy het met die Warwick Castle na Kaapstad vertrek. Op Vrydag 13 April 1883 het die sendeling en sy drie dogtertjies ‘n skip vanaf Walvisbaai na Kaapstad geneem om Lotte in Junie daar te ontmoet.

Friedrich en Lotte is ‘n week ná haar aankoms op Stellenbosch getroud. Friedrich, Lotte en die tweeling is terug na Duitswes, maar Emmie het op Stellenbosch agtergebly by die Rynse meisieskool, ‘n private skool vir die dogters van Rynse sendelinge. Dit is in daardie omgewing waar sy vir Tottie ontmoet het. Emmie het Desembervakansies met ‘n skip na Walvisbaai en van daar na Otjimbingwe gereis om Kersfees saam met haar familie deur te bring.


Tottie en Isie se ma, Susanna Johanna, ‘n nooi Schabort
Foto: Geni

Kinders
Tottie en Emmie het vier kinders gehad: Jacob Daniel (Japie), gebore in 1904: Pauline Emilie Janisch, gebore in 1906; Susanna Johanna (Mollie) Fischer, gebore in 1908; en Peter Krige, gebore in 1911.

Die kinders is almal op die Silverton-kleinhoewe gebore en was by ‘n plaasskooltjie op laerskool, waar twee onderwysers al die kinders saam in een vertrek moes lesse gee. Mollie was ‘n slim kind en is van dié plaasskooltjie af na ‘n Engelse hoërskool, Pretoria Girls High, waar sy in sport uitgeblink het.

Sy wou ‘n veearts word, maar die gesin het nie genoeg geld vir die studies gehad nie en Mollie het haar toe as onderwysers gekwalifiseer. Sy het haar toekomstige man, Bram Fischer, in 1927 ontmoet toe sy in Bloemfontein op ‘n hokkietoer was as deel van die Transvaalse Universiteit Kollege (TUK) se span.


Peter Friedrich Bernsmann, die Rynse sendeling
Foto: Horst Kleinschmidt

Mollie se eerste pos as onderwyseres was in Bethlehem in die Vrystaat waar sy Bram weer in Mei 1930 ontmoet het. Mollie is egter by die skool afgedank omdat sy glo te veel in sport belang gestel het en nie genoeg in die opleiding van die meisies nie.

Sy het haar Hoër Onderwysdiploma in 1932 by die Universiteit van Pretoria gedoen en het in 1934 by ‘n plaasskool in Jachtfontein, Johannesburg-distrik begin werk. Daardie selfde jaar is Mollie se ma Emmie, die sendeling se oudste dogter, oorlede.


Susanna Johanna (Mollie) Krige
Foto: SA history online

Bram
Bram en Mollie se verlowing is op 8 Julie 1936 bekendgemaak. Hulle is op 18 September 1937 getroud toe Tottie se swaer, Jan Smuts, 67 jaar oud was. Jan het 80 jaar oud geword, so Bram en Jan se aangetroude familieverwantskap het 13 jaar geduur.

Bram en Mollie se eerste dogter, Ruth, is op 14 Augustus 1939 gebore. Op 16 Junie 1943 is Ilse gebore en in Augustus 1947, hulle seun, Paul.

Bram Fischer was ’n Johannesburgse advokaat wat aanvanklik as ’n kenner van die mynreg naam gemaak het. In die 1950’s en 60’s het hy opspraak verwek met die talle politieke verhore wat hy hanteer het.

Hy het uit ‘n bekende Afrikanerfamilie gekom. Sy pa, Percy Ulrich Fischer, was ‘n Vrystaatse hoofregter en sy oupa, Abraham Fischer, was in 1907 eerste minister in die eerste kabinet van die Oranjerivierkolonie.


Bram en Mollie se troudag op 18 September 1937
Foto: Shoot The Breeze

Politiek
Onder Bram se invloed het Mollie by politiek betrokke geraak en aan straatkollektes vir die Kommunistiese Party deelgeneem. Mollie het in 1945 as Kommunistiese Party-verteenwoordiger van wyk drie, Johannesburg, gestaan. Sy het dié verkiesing ver verloor en het sekretaresse van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vrede en Vriendskap met die Sowjetunie geword.

In 1954 is sy as dié vereniging se sekretaresse oorsee om geld in te samel en is na Sjina, Duitsland, Pole en Tsjeggo-slowakye saam met aktivis Ruth Frist. Die Kommunistiese Party is in 1950 verban, en het ondergronds as die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party aangegaan. Mollie is in Januarie 1955 deur die minster van justisie beveel om as sekretaresse van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vrede en Vriendskap met die Sowjetunie te bedank en is vir vyf jaar verbied om vergaderings van omtrent drie dosyn verskillende organisasies by te woon.

Mollie se pa, Tottie, is op 4 Julie 1956 in die ouderdom van 81 jaar aan ‘n beroerte in Pretoria dood. Dit was vier jaar voor Mollie in April 1960 gearresteer is en vir 90 dae in die tronk aan ‘n hongerstaking deelgeneem het.


Die dogters van Libertas Parva: Daisy Devenish (aangeneem), Minnie Rust, Isie Smuts en
Queenie van der Spuy
Foto: Nuusbrief van die Krige-bond, Desember 93

Verhoor
Bram was in 1964 die leier van die verdedigingspan in die bekende Rivonia-verhoor van beskuldigdes soos Nelson Mandela, Walter Sisulu en Govan Mbeki. Hy was self ’n senior lid van die verbode Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

Aan die einde van die verhoor, in Junie 1964, het Bram en Mollie besluit om af te ry Kaapstad toe vir ‘n vakansie en om hulle dogter se 21ste verjaardag te gaan vier. Op 13 Junie, rondom 6.30 nm, was hulle in ‘n motorongeluk waarin Mollie dood is.

‘n Rukkie daarna is Bram en kamerade aangekeer en daarvan aangekla dat hulle lede van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika was en die doelstellinge van die kommunisme bevorder het.

In die verhoor het adjudant-offisier Gerard Ludi, wat in veiligheidskringe as Q018 bekend was, begin getuig oor die beskuldigdes se ondermynende bedrywighede teen die regering van Hendrik Verwoerd.


Bram saam met sy drie kinders: Ruth Emilie Rice; Ilse Wilson en Paul Fischer
Foto: Shoot The Breeze

Vermom
Op 25 Januarie 1965 het Bram versuim om by die verhoor op te daag. Hy het aanvanklik op ’n plaas in die Rustenburg-omgewing gaan wegkruip. Bram het plastiese snykunde ondergaan en het met ‘n pikswart baard as vermomming onder die skuilnaam Douglas Black na Johannesburg getrek.

Hy is ná intensiewe speurwerk op 11 November 1965 in hegtenis geneem. Op 9 Mei 1966 het Bram lewenslange gevangenisstraf gekry weens sameswering om die regering omver te werp. Hy is nog 20 jaar gevangenisstraf opgelê vir sy deelname aan die bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

In 1970, terwyl Bram in die tronk was, is sy seun, Paul, in die ouderdom van 23 jaar aan sistiese fibrose dood.

Bram is eers op Robbeneiland aangehou, maar is na die Sentrale Gevangenis in Kaapstad oorgeplaas toe hy met kanker gediagnoseer is. Kort voor sy dood het die destydse minister van justisie toegestem dat hy by sy broer, ’n medikus van Bloemfontein, versorg kon word. Bram is op
8 Mei 1975 oorlede

 

© 2018 Die/The Bronberger