Vir haar ma durf sy Kilimanjaro aan PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 October 2018 09:34
Untitled Document

Taryn-lee Kearney van Donkerhoek het ons kontinent se mees uitdagende berg vir haar ma gaan uitklim. Sy sê dat sy nou nie juis die gebruiklike atletiese lyf het nie, maar dat sy vasberade was om Berg Kilimanjaro in Tanzanië te klim om die stigma rondom geestesgesondheidsprobleme te breek.

Taryn-Lee het dié berg gaan aandurf in ‘n bewusmakingsveldtog vir Wêreld Geestesgesondheidsdag, wat vanjaar op 10 Oktober geval het.

“Mense met gemoedsversteuring kry weliswaar ‘n etiket om die nek en word onbillik hanteer. Dit was oor dié etikette dat my ma, in die beginstadium van bipolêr met erge depressie, gekies het om nie hulp te kry nie en gepoog het om haar eie lewe te neem,” sê Taryn-lee.

“As jy aan ’n gemoedsversteuring ly, weet hierdie: Jy is nie ’n siekte nie. Jy het ’n individuele storie om te vertel. Jy het ’n naam, ’n geskiedenis, ’n persoonlikheid. Om jouself te bly is deel van die stryd!”


Taryn-lee Kearney en haar ma, Lynn Vermaak

Sakevrou
Sakevrou Taryn-lee; bekend vir haar ‘Boomchakalaka’ dinamiese opleiding, afrigting en loopbaan as professionele spreker, beskryf haarself as “curvylicious”. Eintlik kon sy, met haar agtergrond, enige soort bewusmakingsveldtog aangepak het.

Nou hoekom sal iemand wat onverskoonbaar non-atleties is en geen stapper of kampeerder is nie haarself deur so ’n uitdagende, lewensbedreigende beproewing sit? Taryn-lee sê dat “glamping” die naaste is wat sy al ooit aan “camping” was. Sy sê sy wou bewys dat vroue met kurwes ook enige uitdaging kan oorkom, en dat dié soort stereotipering moet einde kry.

Een van die uitdagings wat sy met die klim ervaar het, was juis om te bly wees wie sy is. “Om jouself te bly is ’n groot deel van die stryd vir enige iemand wat met ‘n geestesversteuring stoei,” sê sy.
Mense vra Taryn-lee gereeld hoekom sy so sterk voel oor geestesgesondheid en sy antwoord altyd dat sy die stem wil wees vir diegene wat nie hardop oor hulle probleme kan praat nie. Sy noem dit die ‘stille roep’, ‘n naam wat haar ma, Lynn Vermaak, aan die gevoel gegee het.


Taryn-lee, die sakevrou

Taryn-lee aan die voet van die berg

Waagmoed
“My dogter het die waagmoed gehad om Kilimanjaro aan te durf om mense van geestesprobleme bewus te maak, en ek was te skugter om te sê dat ek sulke probleme het,” skryf Lynn.

Lynn verduidelik dat die skugterheid van kleintyd af kom toe haar ma, Taryn-lee se ouma, probeer het om haar eie lewe te neem deur pille te drink. Lynn was maar agt jaar oud en onthou hoe sy haar ma gesmeek het om dit nie te doen nie.

Sy het haar ma nie as iemand met ‘n siekte gesien nie, maar as ’n mal mens vir wie sy haar skaam. Soos sy ouer geword het, het hierdie siening sterker geraak, veral omdat niemand daaroor gepraat het nie.

Drie jaar gelede was Lynn se gesin slagoffers van ‘n gewapende roof. Ná dit het sy aan post-traumatiese stres-afwyking gely en sy sê dat sy stadigaan deur die donkerte van depressie verswelg is.

“Jou hulpkreet is stil omdat jy óf te skaam is om te erken dat jy swaarkry, nie weet dat jy dringend hulp nodig het nie, óf nie weet waar hom hulp te kry nie. Jy roep om hulp, maar daar is stilte. Doodse stilte,” sê sy.


Die klimtog begin
.

Taryn-lee het dit tot op 5 500 meter, net voor Uhuru-piek, gemaak

Begrip
Word jy geraak deur ’n geliefde of ’n vriend wat aan enige gemoedsversteuring ly? Ons het baie meer openlikheid, deursigtigheid en begrip nodig om daaroor te praat in die samelewing, sê Taryn-lee. “Saam is ons sterker en saam kan ons die stigma breek.”

Byna 20% van Suid-Afrikaners ly aan een of ander vorm van gemoedsversteuring, soos depressie, bipolêr, trauma en post-traumatiese stresversteuring, paniek en angstigheid, postnatale depressie, aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom, obsessief-kompulsiewe steuring en selfmoordneigings.

Die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) is Afrika se grootste geestesgesondheidondersteuning en -voorspraak groep. Om ’n berader te kontak tussen 8 vm en 8 nm van Maandag tot Vrydag, skakel: 011-234-4837, stuur ’n faks na: 011-234-8182 of ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

Vir ’n selfmoord noodgeval, skakel 0800-567-567. Die 24-uur hulplyn nommer is 0800-12-13-14. Besoek die webtuiste by www.sadag.org.   


Taryn-lee, links, saam met die groepie waar elkeen vir ‘n spesifieke saak geklim het

 

© 2018 Die/The Bronberger