Soos blits verby PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 23 October 2018 09:29
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Dit voel byna onwerklik dat die belastingseisoen so vinnig tot ‘n einde geloop het. Met so baie onafgehandelde verifikasies voel dit vir my asof ons nog êrens in die middel van Augustus rond drentel, maar die weer (elke dan en wan) vertel darem ‘n ander storie. 

So ja, hier kom die sperdatum aangesnel – 31 Oktober lê net om die draai. Onthou asseblief dat die voorlopige belastingpligtiges egter tot einde Januarie 2019 het om opgawes in te dien. Indien jy enige probleme ondervind met die indiening van jou opgawe, skakel SARS by 080-000-7277 of besoek een van die SARS-kantore. Die Ashlea Gardens-tak by Lebomboweg 46 is gerieflik geleë en maklik bereikbaar vanaf Garstfonteinweg.

Boete
Wat is ‘n “admin penalty” en hoe ontstaan dit? ‘n Administratiewe boete word in gevolge afdeling 210 van die Belastingwet gehef. Dit is ‘n nie-nakomings-boete.  Dié boetes word gehef indien belastingopgawes uitstaande is. Dit word ook teen ‘n vaste bedrag – per opgawe – per maand gehef.

Indien jy dus vir 24 maande ‘n opgawe uitstaande het sal die bedrag R6 000 beloop teen die minimum boete van R250. Ons kry hierdie veral waar mense ophou indien omdat hulle nie meer belastingpligtig is nie (soos pensioentrekkers) en dan skielik kry hulle ‘n oproep of korrespondensie met ‘n yslike uitstaande bedrag. 

Regstel
Hoe stel ‘n mens dit reg? Die argument dat jy SARS 10 jaar gelede in kennis gestel het, gaan nie staan nie. Die vinnigste manier om verdere boetes te stop is om dadelik uitstaande opgawes in te dien (of jy nou “hoef” of nie). 

Daarna sal ‘n “Request for Remission” ingedien moet word wat die rede aandui waarom dit nie ingedien is nie. Maak asseblief seker dat die rede geldig is. Indien nie, sal dit nie toegestaan word nie.

Dispuut
Dit word nie “afgeskryf” nie – wat nou? Indien die “RFR” nie suksesvol is nie, kan jy binne 21 dae ‘n dispuut aanteken. Indien dit ook nie suksesvol is nie, is die enigste ander uitweg om die boete te betaal. As dit net gelos word, gaan dit een of ander tyd ‘n probleem skep wanneer ‘n direktief aangevra moet word, soos vir die uitbetaling van ‘n polis.

 

© 2018 Die/The Bronberger