Het jy gehoor? / Have you heard? - Mei 2009 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Monday, 18 May 2009 06:35
Untitled Document

As jy onlangs verby ou Faan se Bronberg Lodge gery het en verbaas was oor die bord op die hoek wat aankondig dat daar op 30/8/2008 skaapkoppe geëet gaan word, moenie dink iemand daar het die kluts kwyt nie – al kan dit dalk waar wees. Nee, die vreemde datum op die advertensiebord het ’n veel vreemder oorsprong. Daardie einste bord het juis op 30/8/2008 spoorloos van die padreserwe af verdwyn. Gesteel. Toe ou Hans op 4/5/2009 ’n oproep van ’n vriend kry wat ewe sarkasties laat weet hy is jammer hy het die skaapkopetery in Augustus verlede jaar gemis, kon Hans eers glad nie die kloutjie by die oor kry nie. “Jy adverteer dit dan op jou bord, man,” sê vriend toe. En toe ou Hans hom na buite haas om te gaan kyk, staan daardie gesteelde advertensiebord ná sewe maande weer netjies op sy plek geplant, met die aankondiging oor die vergange skaapkopdag nog net so in ou Hans se handskrif daarop geskryf. Tergende geheim.

xxx

Basie van Zyl van die Bronberg Bewaria laat weet dat hy onlangs ’n uitgevrete bobbejaan op sy voorstoep gekry het. Vroeër jare het sekelsterte algemeen in die Bronberg voorgekom, maar ouer inwoners van die gebied sê die laaste bobbejane het so 20 jaar gelede verdwyn. Dis nou tot een hom anderdag op Basie se voorstoep tuisgemaak het. Dit is moontlik dat Basie se bobbejaan een van dié is wat 20 jaar gelede nog gesien is. Bobbejane word in die natuur 30 jaar oud en in gevangenskap tot 45. Ons wonder of ander inwoners onlangs bobbejane hier raakgeloop het. Ons praat nou van dié soort wat sterte het.

xxx

Found posted low on a bathroom door: Dear dogs and cats, for the last time, there is no secret exit from the bathroom. If, by some miracle, I beat you there and manage to get the door shut, it is not necessary to claw, whine, meow, try to turn the knob or get your paw under the edge in an attempt to open the door. I must exit through the same door I entered. Also, I have been using the bathroom for years - canine/feline attendance is not required.

xxx

Dekades gelede was die Bronberg ’n ondeurdringbare grens en het inwoners suid van die berg niks te doen gehad met inwoners noord van die berg nie. Toe kom daar twee verbindingspaaie deur Zwavelpoort en Tierpoort se poorte en suidelikes begin in die noordelikes se kuierplekke uithang en vice versa. In Zwavelpoort-suid het die spruit toe die grens gevorm en Zwavelpoort- wes se mense was bykans onbekend aan Zwavelpoort-oos se mense, siende dat die een klomp via Atterburyweg huis toe gaan en die ander klomp via Lynnwoodweg. Dit lyk asof die patroon uiteindelik verbreek is met die reuse vergadering wat op 6 Mei gehou is waar ‘osers’ en ‘wessers’ nou saam Kungwini Munisipaliteit gaan aanvat.

xxx

Stemdag in die Bronberg het gekom en gegaan en anders as vir die ouens in die dorp, was daar nie die ongerief van lank wag in lang toue nie. Maar ’n hele klomp dorpenaars het juis oor die toue by hulle stemlokale, koers gekies na Bashewa se ‘mall’ toe om hulle kruisies te loop trek, en voor lank was die vorms wat ingevul moes word as jy buite jou gebied stem, gedaan. Ook die merkerpen wat die vasklou-ink op stemmers se duime moes los, het die gees gegee. Blykbaar het ’n ondernemende kiesbeampte besluit “no problem” en sommer ’n koukie langsaan by die Van der Merwes se winkel gaan aankoop vir dié takie. Die gevolg was dat, as jy by Bashewa gestem het, kon jy die merk sommer so met die vinger afvryf. Die slagspreuk van wyle dr DF Malan van destyds, kon maklik hier van toepassing wees: “Stem vroeg. Stem reg. Stem gereeld.”

 

© 2024 Die/The Bronberger