Kleptomaniese kakelaars werk koöperatief PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 23 October 2018 09:24
Untitled Document

Die rooibekkakelaar bly in familie-swerms van tot 12 voëls wat koöperatief saamwerk. Dit beteken dat daar net een broeipaar is, en dat die broeiende wyfie en kuikens deur die res van die swerm gevoer en beskerm word.

Dié voëls se steelgewoontes geskied ook in groepverband. Hulle sal ander voëls wat in boomholtes nesmaak, soos die hoep-hoep, se kos afvat.

In ‘n studie wat oor 10 jaar gedoen is, is daar gemerk dat kakelaars eers probeer het om die insekte af te neem by ‘n hoep-hoep mannetjie wat prooi vir sy kuikens aanvlieg. In ‘n stadium het die hoep-hoep dit reggekry om die insek by sy kuikens in die nes af te lewer en die kakelaar het doodluiters sy snawel in die nes ingedruk en die insek by die kleintjie afgevat.

Van toe af het daardie swerm kakelaars elke insek-draende hoep-hoep mannetjie uitgelos en gewag om die prooi eerder by die kuikens in die nes af te vat. Die swerm wat bestudeer is, doen presies dieselfde met bonthoutkappers en paradysvlieëvangers se kuikens.

Swerms kakelaars verskil glo van mekaar en spesifieke soorte steelgewoontes word in familie-groepe aangeleer. Kakelaars sal ook voëls wat oop nesstrukture bou, soos mossies, se leë nessies ondersoek om te kyk of inseklarwes moontlik daar uitgebroei het.


Die rooibekkakelaar
Foto’s: Wikipedia

Broei
Kakelaars broei hoofsaaklik in die somer. Hulle maak nes in boomholtes en neem gewoonlik ander voëls, wat die stam aanvanklik uitgehol het, se ou nessies oor. Die nes word glad nie uitgevoer nie en die wyfie bly die heeltyd in die nes as sy die eiers uitbroei.

Sy lê twee tot vier blou eiers wat na omtrent 18 dae uitbroei. Na ‘n ruk ruik die nes glad nie meer goed nie en kuikens skei ook ‘n vreeslike reuk af as hulle hanteer word.

Die rooibekkakelaar, Phoeniculus purpureus, is 32–36 cm groot en weeg 60–90 gram. Dié voël het ‘n lang, helder rooi snawel wat ondertoe buig. Die mannetjie se snawel is langer as dié van die wyfie, wat beteken dat hulle ander metodes gebruik om prooi te soek. Kuikens soek aanvanklik soos wyfies na prooi, maar sodra die manlike kuikens se snawels lank genoeg word, begin hulle soos die mannetjies optree.

Kakelaars klouter rondom boomstamme om krake in die bas vir insekte te deursoek. Hulle kloue is spesiaal aangepas om maklik aan die onderkant van ‘n tak vas te klou.


‘n Onvolwasse voël met sy swart bek in ‘n ou kuifkophoutkapper-nes

Kleur
Die geslagte lyk eners, maar onvolwasse voëls het ‘n swart snawel. Die rooibekkakelaar se vere is swart met ‘n metaalagtige blou-groen skynsel. Sy mantel en rug se groen is ’n bietjie helderder en die ander dele meer van ‘n blouerige swart kleur. In goeie lig onderskei dié bottelgroen kleur hom van die perskakelaar.

Die rooibekkakelaar het wit vlekke op sy vlerke, wat sigbaar is as hy sit, en wit vlekke op die buitekantste vere van sy lang stert, wat sigbaar is as hy vlieg. Sy bene is rooi.

‘n Swerm kakelaars is ‘n raserige spul wat hard kekkel en kwetter. Die lawaai begin stadig maar bou op tot ‘n crescendo met meer voëls wat saamroep. Die mannetjie se stem is duidelik laer as dié van die wyfie.

 

© 2018 Die/The Bronberger