Oudste gesteentes op Bronberg te siene PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 23 October 2018 09:21
Untitled Document

Het jy geweet dat van die oudste gesteentes ter wêreld op die Bronberg gesien kan word?
Prof Adam Bumby van die Universiteit van Pretoria bied gereeld geologiestappies aan in die Faerie Glen Natuurreservaat, waardeur die Bronberg loop, en ook in die Moreletakloof-reservaat.

Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat het onlangs so ‘n uitstappie gereël waar prof Bumby vertel het dat min mense besef hoe uniek die geologie van die Suid-Afrikaanse landskap is.


Prof Adam Bumby, links, spreek Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat toe by die Moreletaspruit
Foto: VFGNR

Die heel eerste aardkors, die Kaapvaal-kraton, het Gauteng rofweg as middelpunt gehad. Dit het later verder uitgebrei en het as Gondwana bekend gestaan. Daarom is die aardkors in dié gebied baie dikker as in ander dele van die wêreld.

In die Faerie Glen Natuurreservaat is die gesteentes aan die suidekant ouer, terwyl dié aan die noordekant jonger is. Dit is oor die 10–20° kanteling van die Bronberg na die noorde in die rigting van die swaar intrusie van die Bosveldkompleks, wat vir sy platinum-groep metale bekend is.


Dié gesteente in die Moreletakloof Natuurreservaat wys dat daar beweging was in die krake wat deur hitte en druk gevorm is. Warm vloeistof, wat opgeloste minerale bevat, is deur die smal krakies gedruk
Foto: Moreletakloof Natuurreservaat

Bergreekse het in ‘n ringvormige wyse om die Bosveldkompleks, van ongeveer 400 by 400 kilometer, gevorm soos wat die gewig van die magma intrusie-gesteentes op die oppervlak afgedwing het.

Dié proses het die ouer onderliggende geologiese lae met die kanteling ontbloot. Die jongste gesteentes wat heel bo-op die rif van die Bronberg gevind word, is die kwartsiet wat deel vorm van die Daspoort Formasie van ongeveer 2.1 biljoen jaar gelede.

Die oudste gesteentes van 2.3 biljoen jaar lê langs die Moreletaspruit naby die reservaat se voëlskuiling ontbloot. Dié donkergrys rotse is stollingsgesteentes, wat in ‘n vulkaniese tydperk gevorm het.


Dié rots wys spore van die eerste bakterie-bondels van miljoene jare gelede. Dit wys nie fossiele nie, net die gevolg van warm vloeistof wat onder geweldige druk deur fyn krake gestoot is
Foto: Moreletakloof Natuurreservaat

Dié rots in die Moreletakloof Natuurreservaat was eens op ‘n rivierbodem
Foto: Moreletakloof Natuurreservaat
.
.

Krater
Die oudste en grootste impakkrater op aarde is ook in Suid-Afrika. Die Kaapvaal-kraton is omtrent
2 023 miljoen jaar gelede deur ’n asteroïed getref, wat ’n krater van 300 km in deursnee veroorsaak het.

Daar was ’n terugslagkoepel in die middel van die krater, met uitkringende skokgolwe wat die omliggende geologiese formasies opgelig, gefragmenteer en gekantel het.


Prof Adam Bumby, regs voor, met ‘n geologiestappie teen die hang van die Bronberg in die
Faerie Glen Natuurreservaat
Foto: VFGNR

Die buiterand van die krater strek verby Johannesburg. In die weste en noordweste van die krater is geologiese lae met die ryk goudinhoud in die gekantelde laagfragmente blootgelê. Dit is dié goudneerslae wat prospekteerders in die 19e eeu ontdek het en gelei het tot die ontwikkeling van die Randse goudmynbedryf.

Die verweerde oorblyfsels van die terugslagkoepel in die middel van die asteroïed-impakkrater word die Vredefortkoepel genoem. Die semisirkelvormige bergreeks van die Vredefortberglandskap is oorblyfsels van die rand van die oorspronklike terugslagkoepel, wat op satellietfoto’s gesien kan word.


Die minerale in die water het die kante van die krake versterk. Die middelste deel van die rots is baie sagter en breek in ‘n vorm wat as ‘snuifboksies’ bekend staan sodra dit na die oppervlakte gestoot word
Foto: Moreletakloof Natuurreservaat

‘Snuifboksies’ met krake tussen in
Foto: Moreletakloof Natuurreservaat
.
.
.
.
 

© 2018 Die/The Bronberger