Veldbrande saai verwoesting PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 October 2018 09:20
Untitled Document

Ongekende groot veldbrande het teen die einde van September verwoesting gesaai met talle beserings, lewensverlies, omvangryke skade aan weiding, infrastruktuur, voertuie en toerusting.

“Met konstante sterk winde is die mense – almal vrywilligers – wat vure bestry het tot die uiterste beproef,” sê Henri Combrink, voorsitter van die Cullinan Boere-unie. Hy sê dat die brande ontstaan het omdat mense nie ag geslaan het op die brandverbod en hoë brandgevaarindeks nie.

“Die omvangryke verlies aan weiding en voer het ons laat besluit om ’n nood voerbank by KWD Voere op Cullinan te skep, waar ons mense kan bystaan met voer vir hulle diere,” sê Henri.

“Binne ’n uur nadat ons die versoek om hulp uitgestuur het, was ons oorval met aanbiedinge om hulp en skenkings. Dit is ongelooflik hoe vinnig die gemeenskap hulle harte en hande oopgemaak het om hulp aan te bied. Ons is opreg dankbaar vir ’n betrokke gemeenskap.”

Met die omvangryke brand by Hartebeestfontein was daar ’n versoek vir drinkwater en eetgoed. Gemeenskapslede van Rayton het oorweldigend reageer met voorsiening van water, energiedrankies en toebroodjies. “Dankie vir elkeen wat gehelp het,” sê Henri.


Sterk winde vroeg in Oktober het veroorsaak dat veldbrande vinnig in Bashewa en Tierpoort se gebied versprei het en oor paaie en brandstroke ‘gespring’ het. Gene de Lange het dié treffende foto geneem

Mense wat skade gely het in die brande kan hulle sektorleiers nader vir bystand met voer vir diere.

Guy Venter, wat ernstige brandwonde in ’n veldbrand in die Dinokeng-wildreservaat noord van Cullinan opgedoen het, het ’n dag ná die brand op 14 September in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Guy was ’n vrywilliger wat met sy bakkie en ’n brandbestrydingstenk agterop gehelp het om die brand te blus. Die tenk se pomp het afgegaan en Guy het uitgeklim om die pomp weer aan te skakel toe hy deur die vlamme vasgekeer is.

Hy is uit die brand gered deur die 19-jarige Duan Bezuidenhout, wat ’n brandbestande pak aangehad het en in die vlamme ingehardloop het. Daar was twee gekwalifiseerde paramedici op die toneel en Guy is na ’n landingsplek geneem waar ’n mediese helikopter hom na ’n hospitaal geneem het.

Hy het egter 65% brandwonde opgedoen en was in ’n kritieke toestand. Mense wat 40% brandwonde opdoen, het klaar net ’n 50-50 kans op oorlewing.

“Ons wil ’n beroep doen dat grondeienaars ag slaan op die bepalings van die Brandwet en voldoen aan die vereistes daarin gestel. Grondeienaars en huurders moet asseblief betrokke raak by gemeenskapstrukture soos brandbeskermingsverenigings,” sê Henri.

Vir meer inligting bel Henri Combrink, voorsitter van die Cullinan Boere-unie by 082-552-9428 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Bel Andre van Heerden, voorsitter van die Cullinan Brandbeskermingsvereniging by 084-207-9097 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2018 Die/The Bronberger