Veiligheid verskerp ná roof by troue PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 23 October 2018 09:20
Untitled Document

Veiligheid by Riverside Castle in Zwavelpoort is verskerp ná ‘n gewapende roof by ‘n troue op
20 September.

Heinrich Pistorius (33) en Almarie Hatter (29) se huwelikseremonie het 3 uur in die kapel begin en ses gewapende rowers het net ná 8 nm opgedaag, toe Heinrich besig was om die trougeskenke na sy motor toe te dra.


Heinrich Pistorius en Almarie Hatter op hulle troudag saam met Almarie se twee dogtertjies
Foto: Verskaf

Dit was ‘n klein, intieme troue met 30 gaste by die ‘Summer Kitchen’, ‘n selfdoen lapa van dié perseel langs Lynnwoodweg-verlenging. Daar was net ‘n paar familielede oor, Almarie se twee dogtertjies van vier en vyf jaar oud, haar pa, Johan Nel, sy verloofde, Antoinette Smit, haar seun, Morné, en Almarie se broer en haar suster en dié se drie dogters.

Drie gewapende mans het die familie beveel om plat te lê en almal, behalwe die kinders, se hande is met kabelbinders vasgemaak. Nog drie rowers het buite met AK47’s waggehou.

Een van die rowers het ’n vuurwapen teen die sewejarige Morné Smit se kop gedruk en die bruilofsgaste se selfone, juwele, geld en motorsleutels geëis. ’n Rower het gebuk om Heinrich se motorsleutels uit sy broeksak te haal en ’n skoot het tussen die bruidegom se bene geklap.


Die ‘Summer Kitchen’ selfdoen lapa
Foto: Riverside Castle

Dit was vir die bruid, Almarie, ‘n vreesaanjaende geluid. Haar eerste man, die 39-jarige Maher Hatter, eienaar van tabakwinkels, is drie jaar gelede in Bedfordview doodgeskiet. Aanvallers het helder oordag op sy bakkie geskiet. Hy het probeer om uit die bakkie te klim en is sewe keer deur sy lyf geskiet voor ’n kopskoot sy dood veroorsaak het. Sy aanvallers is nooit aangekeer nie.

Riverside Castle se buurman, Francois Jutte, het die skoot die aand van die bruilof gehoor en het saam met twee veiligheidswagte na die lapa gejaag. Al ses rowers is toe weg met Heinrich se Volkswagen Polo met al die trougeskenke en almal se beursies, horlosies, selfone en ‘n skootrekenaar, kontant wat hulle uit die kroeg gesteel het en selfs die tafelmesse.

“Ons is baie dankbaar dat niemand seer gekry het nie,” sê Jaco Ackerman, eienaar van Riverside Castle. Hy sê dat die rowers die wag by die hek oorrompel het voor hy oor sy radio om hulp kon roep. Dit was die eerste rooftog by ‘n troue wat daar gehou is.


Riverside Castle met Lynnwoodweg-verlenging regs
Foto: Vibescout

Jaco sê dat die geleentheidsbestuurder laat weet het dat die bruidspaar gevra het om dié aand daar oor te slaap. Dit was egter nie moontlik nie. Jaco sê dat dit slegs moontlik is om oor te slaap indien daar vooraf bespreek is en addisionele sekuriteit gereël is.

Hy sê dat die roof gebeur het op die dag wat veiligheidskameras by die perseel geïnstalleer is. Dit was nog nie geaktiveer nie omdat ’n boom die sein versper het.

Jaco het intussen met professionele veiligheidskonsultante vergader om veiligheid by die perseel op te skerp. Behalwe vir die hekwag, sal gewapende wagte voortaan by elke geleentheid teenwoordig wees.

Personeel het nou addisionele tweerigtingradio’s en paniekknoppies en daar is ‘n sekuriteitsvoertuig op die terrein, wat met elektriese heinings omhein is en deur sekuriteitskameras dopgehou word.


Riverside Castle eienaar, Jaco Ackerman, by Citi Protection offisier, Andries Madihlaba
Foto: Eliot Mahlase

Jaco sê dat dié trouplek baie na aan sy hart lê – hy en sy vrou was die eerste paartjie wat daar getroud is – en dat hy alles binne sy vermoë doen om die veiligheid van gaste en werkers te verseker. Hy het Riverside Castle self gebou – dit was sy grootste droom.

‘n Paar dae ná die voorval is daar ‘n matriekafskeid gehou en alles het goed afgeloop. Teen die Bronnie se saktyd was daar reeds ses verdere funksies sonder voorval gehou.

“Ek is baie dankbaar om deel te wees van Riverside Castle en sal altyd na geleenthede soek om die ondervinding vir ons gaste te verbeter,” sê Jaco.

 

© 2018 Die/The Bronberger